Luidens berigte word ’n tweede skool in Limpopo deur sluiting in die gesig gestaar tensy probleme met infrastruktuur opgelos word.

Leerders van die Laerskool Hlalelani woon steeds nie klasse by nie uit protes nadat ’n gedeelte van die skool se dak op twee leerders neergestort het.

Leerders van die nabygeleë Hoërskool Waterval het uit samehorigheid verlede week ook ’n dag lank uit die skool weggebly.

Lees ook: Die eenvoudige geheim om jou selfoon se batterylewe te verleng

Johana Mudau was by die werk toe sy ’n foonoproep kry dat haar jong kleindogter na die Elim-hospitaal op Makhado gehaas is nadat ’n gedeelte van die Laerskool Hlalelani se plafon onlangs ingestort het.

Die meisie is een van twee leerders wat beseer is. Sy is uit die Elim-hospitaal ontslaan nadat gesondheidswerkers snye aan haar regterarm en -been met steke toegewerk het, sê Johana.

Die ouers het hul kinders uit die skool gehaal nadat die plafon ingestort het. Hulle beweer ook die plafon het ingestort sowat 10 jaar nadat hulle begin kla het oor die skool se toestand ná ’n storm in 2005.

“Die skool is vervalle en verouderd,” sê die sekretaris van die skool se beheerliggaam, Tshilidzi Mulaudzi, wat beweer verskeie kinders is al by die skool beseer weens swak toestande.

Lees ook: Ma van vasgekeerde mynwerker kry swaar

“Ons smeek die regering al sedert 2005 om die geboue op te knap, maar dit lyk of ons pleidooie altyd op dowe ore val. Die skool het 20 klaskamers, maar net vyf van hulle is in ’n bruikbare toestand. Die res is heeltemal beskadig. Dit lyk nie of die regering omgee nie; daarom het ons besluit om ons kinders uit die skool te haal tot iets gedoen word om die situasie te verbeter,” sê Tshilidzi.

Die ouers van die leerders van die Laerskool Hlalelani probeer ook die ouers van ander skole in die gebied oorhaal om aan ’n skoolboikot deel te neem tot Limpopo se departement van onderwys die toestande in die skole aanpak.

Dr. Naledzani Rasila, woordvoerder van die departement van onderwys in Limpopo, sê die departement is bewus van die skool se toestand, maar ’n beperkte begroting kniehalter pogings om die probleme van hierdie en vele ander skole in die provinsie op te los.

Bron: News24

Ander stories op huisgenoot.com:

Begroot só wanneer jy noustrop trek

So lyk ’n McDonald’s Happy Meal glo ná SES jaar

Kyk net hierdie bekendes se verborge talente

Hoe nou? Kyk net watter lawwe verskonings gebruik mense om weg te bly van die werk af!

Nuttige veiligheidswenke om jou spruit te beskerm

Wat is die gevaarlikste dier ter wêreld???