’n Skool in Wigan, Engeland, is die afgelope week behoorlik die skrik op die lyf gejaag toe hulle uitvind die bene van ’n skelet wat die afgelope 40 jaar in die kunsklas gebruik is, is eg.

Die kunsdepartement van die Haydock High School in Wigan gebruik al dekades lank die bene van ’n skelet wat liefderik Arthur gedoop is. Dit was tot Sandra Dixon, ’n nuwe kunstegnikus by die skool, snuf in die neus gekry het.

Hoe meer Sandra met die bene gewerk het, hoe meer het sy begin wonder of dit regtig nagemaak is. Daarom het sy dit toe aan ’n plaaslike begrafnisondernemer gestuur wat verdere toetse daarop uitgevoer het.

En kan jy nou meer: Arthur was toe al die tyd ’n Indiërman in sy vroeë twintigs wat aan die begin van die 1900’s oorlede is.

Min bykomende inligting oor ‘Arthur’ is beskikbaar. Dit is byvoorbeeld onseker of hy as mens of as skelet die lang tog van Indië na Brittanje gemaak het.

Maar nou, 100 jaar later, gaan hy eindelik behoorlik ter ruste gelê word; kompleet met ’n kis, lykswa en kisdraers.

Die personeel en studente van Haydock sal na verwagting die begrafnis bywoon en afskeid neem van hul getroue ‘leermeester’.

Bronne: Yahoo News; Wigan Today