Navorsers het bevind dat kinders wat baie huiswerk (meer as een uur per aand) het, swakker vaar as wanneer hulle nie huiswerk het nie; ’n Kanadese skool toets nou hierdie idee.

CTVNews berig die College de Saint-Ambroise in Quebec, Kanada, het ’n loodsprojek van een jaar begin waar geeneen van die 339 leerders in gr. 1-6 huiswerk gaan kry nie.

Die skool gaan steeds leeswerk toewys en kinders gaan ná skool vir toetse en eksamens moet leer, maar tradisionele huiswerk is iets van die verlede.

’n Dosent aan die Universiteit van Arizona, wat ook ’n boek getiteld The End of Homework geskryf het, het aan CTVNews gesê laerskoolleerders kom dikwels weens buitemuurse aktiwiteite laat by die huis, en die bykomende las van huiswerk kan veeleisend wees.

Studies in 2012 by die Universiteit van Indiana se Skool vir Opvoedkunde het beaam wat ander navorsers bevind het: Huiswerk lei nie noodwendig tot beter uitslae nie. So ook het navorsers van SEDL, ’n navorsingsorganisasie in Texas wat in opvoedkunde spesialiseer, bevind dat te veel huiswerk kinders se akademiese uitslae negatief beïnvloed.

Kanada is nie die eerste land met skole wat dit oorweeg om huiswerk af te skaf nie. Laerskole in Frankryk het dit ook oorweeg, asook skole in Engeland, berig Mail Online.

Hierdie skole glo almal kinders fokus beter wanneer hulle skoolwerk in skoolure voltooi en nie huiswerk het nie: dit verseker ook hulle kry genoeg slaap en vaar akademies beter.

Bronne: Mail Online, CTVNews, centerforpubliceducation.org, washingtonpost.com

- Mieke Vlok