Die ma van die 15-jarige meisie en 16-jarige seun het aan die koerant gesê sy het die skool ingelig oor haar kinders se aanranding, wat van die ander kinders op selfone opgeneem het.

Die skoolpersoneel het aan haar gesê hulle kan niks daaraan doen nie.

Die ma het die polisie en onderwysdepartement genader en hulle die videomateriaal van die onderskeie voorvalle gegee.

By ’n skoolvergadering het die hoof gevra dat hulle die aanklagte teen die ander leerder terugtrek omdat “dit die skool in ’n ongunstige lig stel”.

Die boelie is na bewering glad nie gestraf nie.

Die kinders is na bewering weer aangerand en wil nie meer die skool bywoon nie.

Die provinsiale onderwysdepartement het aan The Star gesê hulle is bewus van die saak en stel ondersoek in.

Help jou kind ’n geboelie beveg:

-        Bou hul selfbeeld. “Ondersteun hulle emosioneel. Dit is belangrik vir hulle om genoeg selfvertroue te hê,” sê Claire O’Mahoney van die Sandton Psychology Centre in Johannesburg.

-        Help hulle ondersteuningsnetwerke skep. “Dit is belangrik dat ander mense in jou kind se lewe hulle ook met die probleem help,” sê Anel Annandale, ’n opvoedkundige sielkundige in Kaapstad. Sy sê dit kan familielede of kinders van dieselfde ouderdom wees.

-        Leer hulle hoe om die ongeskikte kinders te konfronteer. “Hulle moet daardie kinders kan vertel hul gedrag is onaanvaarbaar,” sê Anel.

-        Help hulle verstaan hul omstandighede is nie uniek nie; hulle sal dalk later in hul lewe ook sulke mense teëkom, sê Claire. Die belangrikste is om nie ander kinders se gedrag te probeer verander nie, maar dat jou kind moet besluit hoe om die situasie te hanteer.

 - Sapa