DIS ’n loopbaan met al die byvoordele waarvan enige meisie kan droom, soos jou eie woonstel op 21, ’n luukse motor, ’n vet bankrekening en reise oor die aardbol heen.

Sy het dit alles geniet, maar ook die lelike sy van die modelbedryf leer ken – die skadukant wat pragtige, slanke, jong meisies tot anoreksie en bulimie kan dryf.

Nou onthul die voormalige Mej. SA enTV-aanbiederCindy Nell Roberts besonderhede van ’n wêreld wat dikwels in geheimhouding gehul is.

In ’n nuwe boek waarin sy raad uitdeel, skryf sy nie net oor die swier en glans van modelwerk nie, maar ook die gevare wat dit inhou.

In Cindy Nell’s Model & Pageant Handbook bied die 29-jarige skoonheid raad aan aspirantkoninginne van die loopplank, insig in die bedryf en ervarings van stiliste, agente en topmodelle soos Minki van der Westhuizen, Kerry McGregor, Christina Storm, Michelle McLean, die voormalige Mejj. SA Amy Kleinhans-Curd, Sonia Raciti-Oshry, Lorna Potgieter, Megan Coleman en Tatum Keshwar, en die huidige titelhouer, Nicole Flint.

“Die boek vertel van die goeie, die slegte, die aaklige goed – en alles tussenin – van die model en skoonheidskompetisiebedryf,” sê Cindy toe ons met haar oor haar jongste projek gesels.

“Daar gaan nie ’n dag verby dat ek nie boodskappe kry van jong meisies wat raad vra oor hoe om vir Mej. SA in te skryf of ’n model te word nie. Jy kan nie vir almal terugskryf nie.” Dis geen skinderboek nie, hou die beeldskone brunet vol.

Dit bevat wel ’n paar onthullings wat die oë sal laat rek – soos die voormalige Mej. SA Claudia Henkel se bekentenis dat sy ’n eetsteurnis gehad het.

Ook Cindy het self ervaar hoe kwaai die druk kan wees om maer te word en bly. Sy erken sy het gesukkel om in te pas.

“Meisies word aangemoedig om hulle uit te honger. Ek is 1,76 m lank, en toe ek die eerste keer na ’n agentskap is, was ek rietskraal. Hulle het vir my gesê hulle sal ’n kontrak met my sluit as ek 53 kg weeg.”

Sy weeg vandag ’n gesonde 63 kg, maar onthou in haar laat tienerjare en vroeë 20’s was sy gedurig op ’n dieet en het sy soms tot vyf dae lank niks geëet nie.

“Ek het op koffie en dieetpille oorleef. As dit begin voel of jy gaan flou word, het jy iets geëet.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 4 November 2010