Pres. Jacob Zuma se regspan het in ’n skokwending in die hooggeregshof in Pretoria sy aansoek teruggetrek om die uitreiking van die verslag oor staatskaping te keer. Regspanne vir die DA, EFF, Cope, die UDM en die fluitjieblaser Vytjie Mentor het sedert gisteroggend lank beraadslaag oor die president se poging om die vorige openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, se verslag oor sy verbintenis met die omstrede Gupta-familie te keer. Hulle het sy pogings teengestaan om die uitreiking van die verslag te keer en gesê dis in openbare belang dat die verslag onmiddellik uitgereik word.

Daar was gister hoogdrama in die hooggeregshof in Pretoria met adv. Dali Mpofu, vir die UDM en Cope, wat aangevoer het die uitreiking van die verdoemende verslag kan daartoe lei dat Zuma aangekla word – en dat dit in die openbare belang is om toegang tot Thuli se bevindings te kry. Adriaan Basson, redakteur van News24, het vroeg vanoggend voor die hofsitting begin het, laat deurskemer daar kom ’n dramatiese wending.

Hier is agt dinge wat jy oor die drama moet weet.