Radovan Krejcir wil huis toe.

Die voortslepende sage rondom dié Tsjeggiese mafiabaas se lot het verdiep toe Eyewitness News vroeër vandag berig het Radovan wil aan sy tuisland, die Tsjeggiese Republiek, uitgelewer word. In ruil hiervoor sal hy skuldig pleit op al die aanklagte teen hom (onder meer ontvoering en poging tot moord), tien jaar tronkstraf samelopend uitdien en boonop oor korrupte transaksies met grootkoppe in die polisie getuig.
Dié polisielede sluit die beleërde lt. genl. Richard Mdluli (voormalige hoof van die misdaad-intelligensie-eenheid) en generaal Vineshkumar Moonoo (wat destyds die leiding geneem het in die saak teen Oscar Pistorius) in. Majoor-generaal Joey Mabasa en landdros Stephan Holzen se name word ook genoem. <>

Radovan wil vanuit die Tsjeggiese Republiek getuig waar die nodige sekuriteit verskaf sal word – dit sal die staat baie geld spaar, skryf sy prokureur, Eric Bryer in ’n brief op 4 Oktober aan adv. Andrew Chauke, die direkteur van openbare vervolging in Suid-Gauteng.