Maandagaand is haar lyk gevind – agter die geslote deure van haar kantoor by Eskom in Springs.

Bekommerde familielede het haar as vermis aangemeld nadat dit aan die lig gekom het dat haar motor, ’n wit enkelkajuit Toyota Hilux, by die substasie gevind is waar sy gewerk het. Dit het hulle laat vermoed sy het wel by haar werkplek opgedaag op die dag van haar verdwyning.

Haar familie het 10 dae ná haar verdwyning na die substasie gegaan. Hulle het drie ander werknemers op die perseel aangetref.

Mboneni Yende, woordvoerder van die familie, het aan EWN gesê dit is hoogs onmoontlik dat niemand iets vreemd sou ruik as iemand reeds 10 dae dood is nie.

Intussen het dit ook bekend geword dat die kringtelevisiekameras ophou werk het kort nadat Lucia by die substasie aangekom het.

Kapt. Kay Makhubele het gesê Lucia se lyk is in haar kantoor gevind. ’n Nadoodse ondersoek sal gehou word om meer inligting oor die oorsaak van haar dood te kry.

Nadat aanvanklik na Lucia gesoek is, het die polisie nagelaat om haar kantoor te deursoek.

“Ons het later besef haar kantoordeur is gesluit – dit is toe sy gevind is,” het Makhubele gesê.

Intussen het Khulu Phasiwe, ’n woordvoerder van Eskom, bevestig Lucia is op die perseel in Springs gevind.

Bekommerde vriende en familie het foto’s van haar in die sosiale media gedeel in die hoop dat iemand meer inligting oor haar sou hê.

Ontstelde Twitter-gebruikers eis antwoorde. Hoe is dit moontlik dat iemand by die werkplek kan opdaag, parkeer en na ’n kantoor gaan . . . en daarna vir 10 dae “verdwyn”?

Bykomende bronne: ewn.co.za, ecr.co.za