Wel, iemand in Goldsboro, Noord-Carolina, gaan beslis twee keer dink voor sy weer iets op ’n agterplaasverkoping bekom.

Sy was vas oortuig die vrieskas is ’n gawe winskopie, maar min het sy geweet haar $30-kopie (’n bietjie meer as R460) het verskuilde ekstras ingesluit.

Die gawe buurvrou het net een voorwaarde aan die winskopie geheg: Die nuwe eienaar kon nie die vrieskas dadelik gebruik nie.

Die buurvrou het glo ewe hulpvaardig die inhoud van die vrieskas aan haar plaaslike kerk se Sondagskool belowe as deel van ’n “tydkapsule”-projek; daarom was die deksel van die vrieskas met kleefband verseël. Die Sondagskool se mense sou die inhoud die een of ander tyd kom haal, waarna sy dan die vrieskas vir eie gebruik kon aanwend.

Maar o wee, drie weke later is die kleefband nog in plek en die tydkapsule-projek steeds onder veilige bevrore bewaring in die nuwe eienaar se huis.

Tot hiertoe en nie verder nie, het die agterdogtige eienaar gedink. Niemand daag op om die vrieskas leeg te kom maak nie en daar’s ’n stemmetjie wat haar bly waarsku dat als nie pluis is nie.

Een goeie Vrydagoggend takel sy die vrieskas en raak ontslae van die kleefband. Een ná die ander vreemde item kom na vore: katterommel, ’n groen laken en die allerlaaste item wat jy in ’n vrieskas sou verwag, veral een wat veronderstel is om goed vir ’n Sondagskoolklas te bevat.

Dit het haar so geskok dat sy die deksel met ’n allemintige slag toegeslaan het. Toe maak sy die deksel weer versigtig oop.

Eers het sy gedink dis ’n nabootsing. Dit kon mos nie regtig wees nie.

Sy’t uit die vertrek gestorm en 911 gebel.

“Ek het ’n ernstige probleem,” het die geskokte vrou aan die operateur gesê. “My buurvrou het ’n vrieskas aan my verkoop. Ek het dit pas oopgemaak en ek dink daar’s ’n lyk in!”

“Sy het haar bevrore ma vir $30 aan my verkoop!,” het die ontstelde vrou aan die plaaslike pers gesê.

Die Goldsboro-polisie het Woensdag 1 Junie bevestig dat dit inderdaad ’n lyk is. Daar is (genadiglik) geen teken van misdaad nie en dit wil voorkom asof sy aan natuurlike oorsake gesterf het.

Die nuwe eienaar koester egter ’n nare vermoede – en dit is dat haar buurvrou haar eie ma se lyk in die vrieskas geboender het.

* Die verberging van die dood van ’n mens is ’n oortreding en word deur staats- en omgewingswette beheer.

Bronne: nbcnews.com, washingtonpost.com, nydailynews.com, wcvb.com, ksn.com

Lees ook op Huisgenoot.com:

Vermiste Japannese seuntjie wat as straf langs pad afgelaai is, gevind

‘Ek is glad nie bang nie, tannie’: Jong kankerlyer staak behandeling en stel vertroue in geloof

Is hierdie dalk Bobby se grootste aanhanger?

Jy sal nie glo hoekom kannetjie sy pa by die polisie aangekla het nie!

Wanhopige ma se geskenk vir haar siek kind gaan jou hart breek

Skokkende besonderhede oor Springs se ‘huis van gruwels’ kom aan die lig