“Die kinders kry nagmerries daaroor en ek en hulle is nou bang vir alle polisie,” vertel die motoreienaar, Lelani Venter.

Volgens Lelanie het sy haar huishulp by die Randfontein-stasie gaan aflaai. Haar seun (6) en susterskind (3) is saam.

Op pad huis toe het ’n polisiekar, glo met ses insittendes, van agter gekom en sy het oorbeweeg na die ander baan sodat dit kan verbygaan. “Maar die volgende oomblik was die polisiekar weer agter my met flitsende blou ligte.”

Sy het weer van baan verander, maar die bestuurder het vir haar gewys sy moet stilhou en sy het beduie sy sal stop waar dit veiliger is. Toe sy stilhou, het die bestuurder, in gewone klere, op haar afgestorm en glo geskreeu, “Get out of the car!”

“Ek het gedink ons word gekaap,” vertel Lelani, wat tydens ons telefoniese onderhoud begin huil het.

Daarna het ’n vrou, ook in gewone klere, uit die polisiemotor geklim en een van die kinders uit Lelani se kar getel.

’n Vrou het uit haar salon daar naby gehardloop om te kyk wat aangaan, maar sy is deur die bestuurder van die polisiemotor weggestamp.

Die salonvrou se man was gou by en het die polisieman gewaarsku om nie aan sy vrou te stamp nie. “What are you going to do about it, moer me?” het die polisieman, wie se naam aan Huisgenoot bekend is, hom toegesnou.

Lelanie het toe haar suster om hulp gebel. Toe Lelani se pa in sy eie motor op die toneel aankom, het die polisielede sonder ’n verdere woord weggery.

“Tot vandag toe weet ek nie hoekom hulle my afgetrek het nie. Hulle het nooit ’n rede gegee nie,” vertel Lelanie.

Sy is dadelik na die Randfontein-polisiekantoor gegaan om die voorval aan te meld. “ ’n Interne ondersoek is reeds geloods,” het kapt. Ernst Appel, van die Randfontein-polisie, aan ons bevestig.

KYK DIE VIDEO HIER