In ’n selfoonvideo van die voorval kan ’n mens sien hoe ’n seun ’n baksteen vashou terwyl hy na ’n ander seun loop voor hy hom daarmee gooi. Dit tref die seun se kop.

In nog ’n video stap die beseerde seun weg en hou sy kop vas, terwyl die kinders om hom skree: “Hy bloei!”

Die seuns en hul ouers se name word weerhou om die minderjarige seuns se identiteit te beskerm.

Die beseerde seun se pa het aan News24 vertel die twee het vroeër die dag mekaar gekonfronteer toe die beweerde boelie glo ’n ander seun se selfoon afgevat het.

Beledigings

“My seun was daar en het hom gevra om dit terug te gee,” sê die pa.

“Die boelie het toe weggestap en teruggekeer met ’n tennisbal en gemaak asof hy die kinders daarmee gaan gooi.”

Hy sê sy seun het die seun toe gevra om te stop.

Die pa sê die seun het in die konfrontrasie wat daarop gevolg het, vir sy seun gesê sy “asem stink” en dat hy ’n haarsny kort.

Die seun het daarna die klip na sy seun gegooi, vertel die pa.

“Die seun het twee bakstene gaan haal en my seun het die bakstene by hom afgevat en dit weggegooi. Hy het toe nog een gaan haal en dit reguit na my seun se gesig gegooi.”

Trotse pa

Die pa, ’n voormalige polisieman en karate-instrukteur, sê hy is baie trots op sy seun.

“My seun doen karate, hy speel rugby en ek kan jou belowe hy kon daardie seun baie seergemaak het. Die manier hoe hy die situasie hanteer is, is ongelooflik. As hy gekies het om terug te baklei, was hy ook nou een van die skuldiges.”

Die pa het gesê die dokter was verbaas dat sy seun nie ernstig beseer was nadat hy vir haar die video gewys het. “Hy kon ernstige breinbeserings opgedoen het,” sê hy.

Sy seun het Woensdag die skool se sielkundige gaan spreek en is tydens pouse binne gehou.

Die pa sê hy is baie dankbaar vir hoe die skool die voorval tot dusver hanteer het.

“Die skool hanteer dit reg. Die hoof het my gebel en gevra wat hy kan doen. Ek het gesê so ’n kind (wat bakstene gooi) hoort nie in die skool nie.”

Saak geopen

Hoërskool Stellenberg het aan Huisgenoot bevestig hulle is bewus van die "ernstige insident" wat plaasgevind het en bygevoeg die beheerliggaam ondersoek dit.

Die pa het gesê hy het ’n saak van aanranding teen die seun aanhandig gemaak.

“Ek wil nie hê hy moet tronk toe gaan nie; dis nie hoe dit werk nie. Maar ek wil hê hy moet weet dat elke aksie gevolge dra.”

Die beweerde boelie is glo die seun van ’n parlementêre raadgewer.

Sy pa het ’n versoek om kommentaar geweier. “Wie ook al vir jou die storie gegee het, sal vir jou die volle verhaal kan vertel. Jy hoef nie met my te praat nie,” het hy gesê.

Jessica Shelver, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwyserdepartement, het gesê hulle is bewus van die voorval. “Ons ondersoek die saak as ’n prioriteit.”

Bron: News24