Die beeldmateriaal was afkomstig van ’n versteekte kamera wat deur die besorgde familie van die chroniese siek Hope Shephard aangebring is. Onverklaarbare kneusings op Hope se lyf en ’n gebreekte arm het die waarskuwingsklokkies skril laat lui. Omdat Hope nie in staat was om te praat nie, kon sy nie enige aanvaarbare verduideliking of verklaring aan haar familie verskaf nie.

In die beeldmateriaal wat die 84-jarige slagoffer se dogter aan Carte Blanche gegee het, kan gesien word hoe haar versorger haar stamp, met die elmboog slaan, skop en selfs lyfsproei in haar trageotomie (gat in haar lugpyp) spuit sodat sy blykbaar krul van die pyn.

Hope probeer haarself verdedig en terugveg, maar sy het nie ’n kans teen die jonger en sterker versorger nie.

Die versorger, Ncediswa Mkenkcele (destyds 40), is Donderdag agt jaar gevangenisstraf opgelê vir die aanvalle op Hope in 2015.

Volgens die Oos-Kaapse nuuswebtuiste HeraldLive het landdros Ignatius Kitching gesê om ’n vonnis onder korrektiewe dienste se toesig op te lê, sal onvanpas “toegeeflik” wees.

Mkenkcele se gebrek aan berou het daartoe bygedra dat sy reguit tronk toe gestuur is.

Sy is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis nadat sy skuldig bevind is aan vyf aanklagte van aanranding, maar die vonnisse sal tegelykertyd uitgedien word. Sy sal minstens agt jaar agter tralies wees. Een van Hope se kleinkinders het die volgende boodskap op Twitter gedeel: “Geregtigheid het eindelik geskied. Die vrou wat my ouma mishandel het, het agt jaar tronkstraf gekry.”

Waarskuwing: Grafiese video kan sensitiewe kykers ontstel

 

Bronne: heraldlive.co.za, citizen.co.za