’n Inwoner van Krugersdorp het ’n video geneem waarop omtrent al die motors oor die stopstraat buite dié skool ry.

In die video op YouTube kan jy sien hoe voertuie die stopstraat blatant ignoreer. Van die bestuurders verminder spoed, maar ry steeds.

Volgens Dean Verwey, adjunkhoof van die skool, was daar al ’n geval waar leerders getref is.

“Verlede jaar is twee meisies raakgery. Hulle het gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie.”

Dean sê hulle probeer nou om ’n stokkie te steek voor motoriste wat die padreëls verontagsaam.

“Ons probeer die stadsraad oorreed om hobbels in die pad te bou en meer verkeersbeamptes aan te stel wat die motoriste kan beboet.”