Skokonthullings oor die sogenaamde afspraakmoorde in Krugersdorp is Woensdag in die klagstaat vervat toe John Barnard (40) in die Suid-Gautengse hooggeregshof op 13 aanklagte skuld erken en ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Barnard is tot effektief 20 jaar gevonnis.

Regter Ratha Mokgoatlheng het Barnard dié vonnis opgelê op voorwaarde dat hy ’n staatsgetuie sal wees tydens die verhoor van sy medebeskuldigdes: Marinda Steyn (50), haar kinders, Leroux (21) en Marcel (18), asook haar vriende Cecelia Steyn (35) en Zak Valentine (31).

Huisgenoot kan eksklusief onthul hoe die afspraakmoorde volgens Barnard verloop het. Dit is vervat in die klagstaat.

Peter en Joan Meyer

Aanklag 1: Skuldig: Roof met verswarende omstandighede

Barnard het twee dekades lank by Peter en Joan Meyer se drukkersonderneming in Roodepoort gewerk. Hy voer aan hy het sy medebeskuldigdes onder die indruk gebring dat die Meyers “miljoene rande” kontant hou in die kluis by hul huis in Ruddstraat, Noordheuwel.

Volgens Barnard was die plan om die egpaar net te beroof. Zak, Marinda en Marcel het volgens hom na bewering op 27 November 2015 vir die vals “sakeafspraak” by die egpaar se huis opgedaag.

Kort nadat hulle toegang tot die huis verkry het, het hulle die Meyers glo met geweld gedreig om toegang tot die kluis te kry.

Toe dit blyk daar is nie so baie geld nie, is die egpaar volgens hom wreedaardig met ’n mes doodgesteek en van ’n selfoon en beursie met R700 kontant beroof.

Barnard het aangevoer hy was nie self daar nie, maar het wel help beplan om sy werkgewers te beroof.

Jarrod Jackson

Aanklagte 2 tot 4: Skuldig: Moord, bedrog, regsverydeling en die versuim om die ligging van onwettige vuurwapen en ammunisie aan te meld

Luidens die klagstaat was Zak  van 1 Oktober 2011 tot 3 Julie 2015 ’n finansiële adviseur by Discovery Life. Leroux het op 5 Januarie 2015 as persoonlike assistent vir Zak gewerk.

Zak het op 21 Julie 2015 lewensversekering by Discovery uitgeneem en Cecelia die enigste begunstigde gemaak. Barnard beweer hy het Zak gehelp om sy eie dood te versin en voer aan hy het dit saam met Zak en Leroux beplan.

In Julie 2015 het hulle met die straatsmous Jarrod Jackson (44) vriende gemaak. Die middag van 16 Desember 2015 het Barnard en sy vermeende medepligtiges, onder wie Zak, Marinda en Leroux,  Krugersdorp in twee verskillende motors in die rigting van Petrus Steyn in die Oos-Vrystaat verlaat. Albei motors het aan Zak behoort.

Op pad het Leroux Jarrod na bewering pille ingegee en hom verwurg toe hy sy bewussyn verloor. Hulle het hom glo daarna agter die stuur van Zak se Mercedes-Benz gesit en paraffien gebruik om die motor aan die brand te steek.

Hulle is na bewering saam met Marinda in ’n tweede motor daar weg. Zak het daardie nag na bewering onder die naam Jacques de Villiers by die Herberg-hotel in Krugersdorp ingeboek.

Die volgende oggend, op 17 Desember, het Marinda na bewering Jarrod se lyk valslik as Zak s’n geïdentifiseer en glo ook beweer hy is haar broer.

’n Dokter het verkeerdelik ’n doodsertifikaat vir Zak uitgereik en Marinda het seggenskap oor die lyk gekry. Marinda het Jarrod dieselfde dag laat veras en saam met Cecelia na Discovery gegaan om Zak se lewenspolis op te eis.

Op 21 Desember is ’n roudiens vir hom gehou. Die begrafnisondernemer Martin’s Funerals het die reëlings behartig.

Barnard het erken hy het die polisie van 16 Desember tot 26 Junie 2016 doelbewus oor die waarheid oor Zak mislei en selfs vals verklarings hieroor afgelê.

Glen McGregor

Aanklagte 5 en 6: Skuldig: Moord en roof met verswarende omstandighede

glenuse

Nie ver van die Cosanna-woonstelblok nie het Glen Kidd McGregor (57) ’n belastingsdiensonderneming bedryf.

Marinda, haar kinders, Cecelia en haar gesin het in Cosanna gewoon. Marinda het Glen na bewering onder die valse voorwendsel genader dat sy haar belasting by hom wil laat doen.

Barnard het beweer hy, Cecelia, Marinda en Leroux wou Glen vir geld vermoor. Hy het ook aangevoer ’n week voor die moord het Marinda hom gaan wys waar Glen se hoewe is. Hy beweer op 27 Januarie 2016 het hy, Marinda, Leroux en Marcel na Glen se hoewe buite Randfontein gery.

Voorts beweer Barnard hy het in die motor agtergebly om uit te kyk. Marinda het glo ’n vuurwapen te voorskyn gebring en Glen in die maag geskiet.

Hy het nog geleef terwyl hy sy bankrekening se PIN-nommer moes gee. Altesaam R6 000 is glo toe elektronies na Marinda se bankrekening oorgeplaas. Glen is volgens John toe verwurg en sy selfoon is gesteel.

Anthony Scholefield

Aanklagte 7 en 8: Skuldig: Moord en roof met verswarende omstandighede

scholefield

Anthony Scholefield (64) was ’n versekeringsmakelaar. Barnard beweer hy het saam met Marinda, Cecelia, Leroux en Marcel beplan om Anthony te vermoor en te beroof.

Op 10 Mei 2016 is Anthony na die Cosanna-woonstelle gelok. Barnard het beweer hy, Marinda, Leroux en Marcel was teenwoordig. Hulle het Anthony aangehou en hom met sy lewe gedreig om sy PIN-nommers te kry.

Barnard het beweer hy en Marcel het by ’n kitsbank gaan geld trek. Anthony is toe in die woonstel verwurg. Altesaam R16 000 is na bewering uit sy rekeninge onttrek en by verskillende winkels is aankope daarmee gedoen.

Volgens Barnard het hy Leroux gehelp om Anthony se lyk in swart plastieksakke toe te draai, hom in ’n asblik na die parkeerarea onder te neem en sy lyk in die bagasieruim van sy voertuig te sit.

Hy het gebieg hy het Anthony se voertuig bestuur tot by Premierstraat, waar hy beweer Marinda hulle opgelaai het en teruggeneem het woonstel toe.

Kevin McAlpine

Aanklagte 9 en 10: Skuldig: Moord en roof met verswarende omstandighede

kevinuse

Kevin McAlpine (29), ook ’n versekeringsmakelaar, is op ’n soortgelyke wyse vermoor.

Barnard het gesê hy, Cecelia, Marinda, Leroux en Marcel het die moord op Kevin beplan en hom op 26 Mei 2016 na die woonstel gelok. Daar het hulle hom na bewering met ’n vuurwapen gedreig om sy PIN-nommers te gee. Volgens Barnard het hy en Marcel geld uit Kevin se rekening gaan trek, waarna Kevin verwurg is. Nes met Anthony is Kevin se lyk volgens Barnard in Sivewrightstraat in die bagasieruim van sy motor gelos.

Hanlé Lategan

Aanklagte 11 en 12: Skuldig: Moord en roof met verswarende omstandighede

Barnard beweer dieselfde medepligtiges het die moord op en roof van die eiendomsagent Hanlé Lategan (52) beplan.

Dit was glo Cecelia se idee om Hanlé se lyk naby Randfontein in ’n stroom eerder as in haar voertuig te los om die polisie van stryk te probeer bring.

Op 30 Mei 2016 is ook sy glo onder vals voorwendsels na die woonstel gelok. Daar is Hanlé na bewering met ’n vuurwapen aangehou, maar verwurg nadat sy haar PIN-nommers gegee het. R3 000 is uit haar rekening getrek.

Die lyk is glo in Marinda se Hyundai vervoer en op die Randfontein-Tarltonpad gaan los. Dis vroeg die volgende dag gekry. Haar handsak is twee blokke van die moordtoneel opgespoor.

In die 13de en laaste aanklag het Barnard skuld erken op die klag hy versuim het om die polisie van die arsenaal wapens in Marinda se woonstel in te lig.

Wanneer Barnard se medebeskuldigdes weer op 27 Januarie in Krugersdorp in die hof verskyn, gaan daar na verwagting nog moordaanklagte van so ver terug soos 2012 by die klagstaat gevoeg word.