Dié intieme detail van die prinses se ongelukkige huwelik met Charles is een van talle brokkies inligting wat onthul word in ’n biografie van Camilla Parker Bowles, The Duchess: The Untold Story, ter viering van die hertogin se sewentigste verjaardag volgende maand, berig die Daily Mail

Die skrywer, Penny Junor, vertel onder meer hoe sleg dit vir Diana was dat Charles op hul wittebrood net wou lees en verf. Hy het eendag vir ’n halfuur na iets gaan kyk en toe hy terugkom, het sy een van sy skilderye verwoes.

Tydens een van Charles en Diana se kuiers op die Balmoral-landgoed in Skotland het Charles vir Michael Colborne, wat vir hom gewerk het en wat soos ’n vaderfiguur vir Diana was, gebel en gevra dat hy die dag saam met haar kom deurbring.

Vir ses uur lank het Diana gehuil, op en af geloop, meubels geskop en geskel oor alles wat sy van die plek haat. Uiteindelik het sy opgehou en aangekondig dat sy kamer toe gaan.

Diana se geestesgesondheid het na haar troue baie agteruitgegaan en in die 1980's was daar nog nie veel begrip vir die probleem nie, skryf Penny.

“Dit is onmoontlik om te weet wat Diana se eetversteuring veroorsaak het, maar haar skielike bekendheid en die stres om heeltyd dopgehou, agtervolg en afgeneem te word, moes selfs vir die mees selfversekerde 19-jarige moeilik gewees het.” 

Volgens The Mirror het Charles Camilla in 1973 gesmeek om nie met Andrew Parker Bowles te trou nie en het sy Charles se “hart gebreek” toe sy hom daarvan in ’n brief vertel terwyl hy in die Karibiese Eilande militêre diensplig doen.

In die boek word ook vertel hoe ’n smoorverliefde Charles gestaan en huil het terwyl hy uit die paleisvenster kyk na die skare wat saamdrom vir sy huwelik met Diana.

In ’n vorige onderhoud met die Daily Mail vertel Camilla van die ophef toe die media uitvind van haar affair met Charles terwyl hulle albei nog getroud was.

“Ek kon nêrens heen gaan nie. Die kinders het aangegaan soos gewoonlik, so ook goeie vriende. 

“Dit was aaklig. Dit was baie onaangenaam en ek sal nie my grootste vyand dit toewens nie. Ek sou dit nie sonder my familie oorleef het nie.”

Bronne: Daily Mail, The Mirror.