As Kapenaars nie nog minder water verbruik nie, kan die volgende stap om droë krane te vermy wees om behandelde afvalwater in die stelsel terug te plaas en ’n duur ontsoutingsaanleg wat waterpryse met minstens 50 persent sal opstoot, het die Moederstad se burgemeester, Patricia de Lille, Dinsdag gesê.

waterkraan

Met dié dat damme wat die stad van water voorsien net ’n derde vol is, wil De Lille vra dat Kaapstad tot ’n rampgebied verklaar word.

Die mikpunt vir verminderde verbruik van 700 miljoen L per dag blyk steeds onbereikbaar te wees. Die jongste syfer is 837 miljoen L. Net sowat 20 000 oormatige waterverbruikers is verantwoordelik vir die verskil.

“Ons het 121 dae van bruikbare water in ons damme oor,” het De Lille gesê tydens ’n inligtingsessie om die stad se waterkrisis by Kapenaar te probeer tuisbring.

Sy wil vra die Wes-Kaap se LUR vir omgewingsake, Anton Bredell, moet die stad tot ’n rampgebied verklaar sodat noodmaatreëls ingestel kan word.

‘Krisis’

Dit sal onder meer behels dat afvalwater verder behandel word om dit in die drinkwaterstelsel te plaas en water uit die Tafelberggroep-akwifer en die Kaapse Vlakte-akwifer onttrek word. Op lang termyn beplan die stadsraad ’n ambisieuse ontsoutingsprojek van R15 biljoen saam met Eskom waarvan die bedryfsuitgawes R1,2 biljoen per jaar kan beloop.

“Help ons, asseblief. Ons is saam hierin en ons gaan saam swaarkry,” het die burgemeesters gesê.

De Lille het gemaan die damvlakke kan binnekort tot onder 10 persent daal. Gebeur dit, kan beurtwater ingestel word soortgelyk aan die beurtkrag van sowat ’n dekade gelede, maar onderbroke watertoevoer kan probleme soos lugblase in waterpype veroorsaak.

Die stad verminder reeds druk vanaf die Faure-reservoir. Dit sal ook die huidige 3B-beperkings vir die somer en herfs verskerp, wat beteken ’n algehele verbod sal op tuin natlei geplaas en waterverbruikvrystellings herroep word.

“Ons is in ’n krisis,” het De Lille gesê.

Bron: News24