Die snoeiskêr is behoorlik ingelê wat veral internasionele programme betref.

Gerugte van groot skommelinge rondom SABC met betrekking tot plaaslike en internasionale programme het die afgelope weke die ronde gedoen. En vandag is dit finaal bevestig: goue gunstelinge gaan gly, en ’n paar gaan bly.

Die uurglas het letterlik leeggeloop vir een van die oudste sepies op televisie: Days Of Our Lives.

Die sepie het op 8 November 1965 op NBC begin. En in 1996 het Suid-Afrikaners met die lief en leed van die Hortons, die boosheid van die DiMera’s en alles en nogwat tussendeur kennis gemaak.

Luister vir oulaas na die temalied:

Die laaste episode (12 107) sal op 20 Julie uitgesaai word.

7de Laan-aanhangers moet óf die program regstreeks volg of ’n PVR naderhark. Van 4 Julie sal SABC3 geen herhalings van die sepie uitsaai nie.

Die gewilde retro-uur op SABC3 van 12:00-13:00 weeksdae word ook gekanselleer.

Maar dis nie net slegte nuus wat voorlê nie.

1.    The Bold And The Beautiful sal steeds 18:00 weeksdae uitgesaai word. Maar die 09:00-herhaling sal na 10:00 verskuif.

2.    Expresso word met ’n halfuur verleng.

3.    Die plaaslik-vervaardigde High Rollers sal vanaf 4 Julie vyf dae per week uitgesaai word.

Amerikaanse programme wat oorleef:

CSI Miami (22:30), The Fixer (21:00), Dr 90210 (22:30) en The Mentalist (20:00), alhoewel tydgleuwe aangepas kan word.

Programme wat saam met Days Of Our Lives gaan verdwyn

1.    Geen Amerikaanse werklikheidsreekse sal van 4 Julie uitgesaai word nie.

2.    The Office, Whitney, Numb3rs, Minute To Win It, Brookyn Nine-Nine en The Exes gaan ook gestaak word.

Nuwe Amerikaanse programme

1.    Two And a Half Men (11)

2.    The Flash.

Bronne: channel24.co.za, tvplus.co.za