Leopold Leisser is dood in sy huis in Birmingham, Engeland aangetref.

Die voormalige prostituut, wat bekend staan as die German Master en ’n getuie in die Shrien Dewani-wittebroodmoordsaak was, het homself gehang, het ’n nadoodse ondersoek aan die lig gebring.

Volgens die Birmingham Mail het ’n polisieondersoek bevind Leopold het “aan stres gely” nadat hy in die hoëprofielsaak getuig het.

Shrien is daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein was agter die moord op sy vrou, Anni, in 2010 tydens hul wittebrood in Suid-Afrika.

Die Britse sakeman is eindelik verlede jaar vrygespreek van haar moord, maar die drie mans wat die paartjie gekaap het, is tronk toe.

Leopold se getuienis vir die staat het onder meer bewerings ingesluit dat Shrien hom sowat R6 000 vir seks en sekspeletjies voor sy troue betaal het. Shrien het glo ook aan Leopold gesê hy het bedenkinge oor sy naderede troue.

Die hof het egter sy bewerings as onrelevant beskou.

Drie mans, Tongo, Mziwamadoda Qwabe en die skieter Xolile Mngeni, is eindelik deur die hof skuldig bevind vir hul aandeel in Anni se moord.

Bronne: Brimingham Mail; Mail Online