’n Regter het Katherine Jackson, die matriarg van die Jackson-familie, gelas om na die getuiebank te kom as deel van haar bejaardemishandelingsaak teen haar kleinneef, Trent. Die 86-jarige Katherine het in Februarie vanjaar ’n inperkingsbevel gekry teen Trent, wat haar motorbestuurder was en na haar geldsake en welsyn omgesien het. Sy het beweer hy “is ’n beledigende swendelaar” wat haar jare lank emosioneel mishandel en probeer het om beheer te neem oor haar geldsake. Trent het die bewerings ontken en hofstukke ingedien waarin hy beweer dat Katherine se seun Jermaine, wyle Michael Jackson se broer, die meesterbrein agter die hele saak is in sy poging om Michael se boedel te beheer. Trent het gevra of Katherine, wat nie in die hof verskyn het nie, die verklaring self geskryf het en of sy enige idee gehad het wat aan die gebeur was terwyl sy in Londen by haar dogter Janet is.

Trent het ’n regter versoek om óf die saak tersyde te stel óf Katherine te dwing om in die hof te verskyn, aangesien hy oortuig is sy sal hom dan steun. Regter Rolf Treu het Dinsdag beslis dat hy nie ’n beëdigde verklaring van Katherine sal aanvaar nie, en sy sal persoonlik in die hooggeregshof van die distrik Los Angeles moet verskyn vir haar getuienis en kruisverhoor rakende die saak. Joy Bass, Katherine se prokureur, het egter aan die New York Daily News gesê sy is nie seker of die hofbevel sterk genoeg sal wees om die matriarg te oorreed om terug te keer na Amerika nie.

Bass het bygevoeg Katherine, wat na Brittanje gereis het om Janet by te staan ná die geboorte van haar eersteling, is tans “onder doktersbehandeling” in Londen en sy behoort nie gedwing te word om haar gesondheid in gevaar te stel ten einde self te getuig nie.

Regter Treu se besluit is die jongste in ’n reeks terugslae vir Bass, wie se vorige pogings om verklarings oor Trent se sogenaamde beledigende optrede misluk het. Haar span se eerste poging, toe hulle ’n sosiale werker van Adult Protective Services uitgevra het oor sy legger rakende die saak, het in ’n doodloopstraat beland toe die regter beslis die werknemer hoef nie die legger te deel of vrae te beantwoord nie.

Regter Treu het ook Katherine se sekuriteitshoof, Stephen Caines, verhoed om te getuig oor die gerug dat sy aan hom gesê het sy is bang vir Trent. Hoewel Janice Smith, Katherine se voormalige persoonlike assistent, erken het sy het gesien dat haar voormalige baas “teruggetrokke en vreesagtig” optree in Trent se geselskap, het regter Treu ’n beswaar gehandhaaf wat haar verbied om te antwoord op die vraag of sy ooit gesien het Trent se optrede is “gemeen of kwasterig”.

© Cover Media