Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê die sterftekoers in die huidige uitbraak van Ebola het tot 70 persent gestyg. Hulle maan daar kan binne twee maande tot 10 000 nuwe Ebola-gevalle per week in Wes-Afrika voorkom.

Dr. Bruce Aylward, assistent-direkteur-generaal van die WGO, het die kommerwekkende syfers tydens ’n nuuskonferensie in Genève verskaf. Voorheen het die agentskap die algehele sterftesyfer van Ebola op sowat 50 persent geskat.

Daarenteen is die sterftekoers in voorvalle soos griepepidemies gewoonlik onder 2 persent.

Bruce het gesê Ebola is ’n siekte met ’n hoë sterftesyfer en bygevoeg die Verenigde Nasies se gesondheidsagentskap fokus steeds daarop om siek mense af te sonder en so gou moontlik te behandel.

Hy het vir verslaggewers gesê as die wêreld se reaksie op die Ebola-krisis nie binne 60 dae verskerp nie, “sal baie meer mense sterf” en sal gesondheidswerkers onder nog meer druk verkeer. Die kenners sê die omvang van die epidemie verdubbel ongeveer elke drie weke.

Die WGO het sy Ebola-sterftesyfer Dinsdag aangepas tot 4 447 mense, amper almal van hulle in Wes-Afrika, uit die meer as 8 900 wat vermoedelik aangetas is. Bruce sê die sterftekoers beteken alle moontlike pasiënte word opgevolg. Dis ’n ingewikkelde proses, want die getal gevalle word beduidend onderberig en baie pasiëntdata word vermis.

Gesondheidswerkers loop kwaai deur onder die virus, wat versprei word deur kontak met liggaamsvloeistowwe soos bloed, braaksel en ontlasting. Dokters Sonder Grense sê 16 van sy werknemers het Ebola opgedoen en nege van hulle het gesterf.

- Sapa