Razvan Razu (30) het duidelik nie mooi gedink wat hy doen toe hy op 17 Maart 2015 sy selfoon op ’n besige snelweg gebruik het om ’n teksboodskap te stuur nie.

Want sien, Razvan was agter die stuur van ’n aansienlike groot vragmotor en dit was spitsverkeer op die M1 naby Londen. Hy het geen ag geslaan op die feit dat sy fokus op die pad moes wees nie.

Dit het hom Maandag, 24 Oktober, duur te staan gekom hoewel verskeie van mening is dat sy straf hopeloos te gering is. Razvan gaan agt maande in die tronk deurbring. Boonop is sy bestuurslisensie vir drie jaar opgeskort en voor hy weer sy hande aan ’n stuurwiel mag slaan, sal hy aan ’n uitgerekte hertoetsing onderwerp word.

Kyk: Watter impak kan dit op jou lewe hê as jy teks en bestuur?

Soos soveel ander motoriste ewe ongeërg daagliks doen, het Razu met sy selfoon doenig gebly en hom nie aan die padreëls óf die verkeer gesteur nie.

Hy was té besig om ’n teksboodskap saam te stel om selfs sy eie spoed by dié van die ander voertuie op die snelweg aan te pas.

Met bykans noodlottige gevolge . . .

Drie voertuie is deur die voortsnellende vragmotor getref. Twee motorbestuurders kan ook hul gelukkige sterre dank dat hulle bloot met geringe beserings van een man se onnosele daad opgedoen het.

Speursersant Stephen Pidgeon van die Ernstige Botsing-ondersoekeenheid het gesê: "Dit is selde moontlik om so ’n duidelike voorbeeld te sien van die kanse wat sommige bestuurders waag met selfone en ook om dit te gebruik terwyl hulle bestuur."

Hy het ook sy verstomming uitgespreek dat Razvan hom ook geensins aan die aanboord-kamera gesteur het nie.

Bronne: Facebook, metro.co.uk