Sy’t glo op die verkeerde plek voor haar huurwoonstel in die noorde van Durban parkeer. Maar wat daarna gevolg het, is genoeg om jou nagmerries vir dae te besorg.

’n Ouerige vrou kom al vingerswaaiend en swetsend na ’n veiligheidshek aangeloop, eisend dat die motor – wat in alle waarskynlikheid so parkeer is dat ’n ander voertuig vasparkeer is – geskuif word.

Aan die ander kant van die veiligheidshek: ’n jong enkelma en haar vierjarige dogtertjie.

In die heftige gesprek wat volg, word die persoon ook ingelig dat sy nie langer in die kompleks kan aanbly nie. Dreigende woorde volg dat haar motor weggesleep sal word en dat sy vir die koste daarvan sal moet pa staan.

Maar dis nie die ergste wat gebeur nie.

’n Ouerige man kom met ’n byl nadergestap. Die volgende oomblik swaai hy dit en tref die veiligheidshek. Die derde, en jonger lid van die “parkeerbrigade”, sê aan die jong ma dat sy nou die verkeerde man die josie ingemaak het.

Die volgende oomblik versplinter een potplant na die ander. Die byl word ingespan om haar besittings te breek.

“Skuif jou motor,” word die vrou deur die bylswaaiende man toegesnou. Die jong man vra dat sy die motorsleutels aan hom moet oorhandig sodat hy die motor kan skuif.

Die jong vrou sê dat sy nie gaan uitkom om die motor te skuif nie. Sy wag vir iemand om te kom help en sy is te verskrik om uit te kom. Boonop is haar vierjarige dogter ook net so verskrik.

Die jong man begin om fisies haar motor te skuif. Die bylswaaier dreig al vloekend voort: “Kry die ding hier weg of ek stoot dit tot binne in die sloot.” In die agtergrond huil haar dogtertjie al hoe harder . . .

Luidens berigte is die huiseienaars net bekend volgens hul van, Makhan (soms ook Machan gespel), en van Tinley Manor in die noorde van Durban. Verskeie vorige huurders het ook nou in sosiale media van hulle laat hoor en daar word melding van soortgelyke voorvalle gemaak. Mnr. Makhan word ook deur sommige glo as die Tinley Manor-“slumlord” beskryf.

Die drie video's is deur Melissa-Leigh Lee op Facebook gedeel. Die jong vrou is haar dogter.

Op haar Facebook-inskrywing beskryf Melissa-Leigh vir mnr. Makhan as "uiters gevaarlik en plofbaar".

“My kleindogter is getraumatiseer,” sê sy. Sy noem ook dat die persone betrokke by die voorval hoor probeer omry het.

Waarskuwing: Kru taal

Bronne: heraldlive.co.za, myballito.co.za