Die 30-jarige Lindsay se liefdesverhouding met haar ryk Russiese kêrel het die hoofopskrifte gehaal nadat videogrepe aanlyn opgeduik het waarop Egor haar na bewering op ’n strand in Mykonos, en daarna weer op die balkon van hul woonstel in Londen, Engeland aanrand.

Albei voorvalle het in Julie vanjaar plaasgevind en in albei gevalle lyk dit asof haar nou vervreemde Russiese geliefde die aktrise van Mean Girls aanrand tydens ’n stryery oor sy selfoon. Lindsay het nou, tydens ’n onderhoud met die Mail on Sunday, ’n Britse nuusblad, beweer Egor het haar voorheen ook aangerand. “Ek besef nou ’n mens kan nie net vir liefde in ’n verhouding bly nie,” was haar verduideliking. “Geen vrou kan, nadat sy deur iemand geslaan is, by daardie mens bly as hy nie bereid is om te sê hy is jammer nie.” Ná die bakleiery in Londen, waar bekommerde bure die polisie ontbied het nadat hulle foto’s van Lindsay geneem het waar sy om hulp skree tydens ’n rusie met Egor, het die aktrise by ’n vriend in Frankryk gaan bly.

Sy was in trane toe sy die voorval beskryf: “Toe ons by die huis kom, is ek bed toe en Egor is uit. Hy het ná ’n paar uur teruggekom en toe ek wakker word, staan hy bo-oor my. Hy was nie by sy sinne nie, hy was baie aggressief en het my aangerand.”. Volgens Lindsay is sy nou bekommerd oor wat Egor aan haar of homself gaan doen en sy het erken sy voel onveilig. “Ek het werklik verlief geraak op hom, maar hy het my vertroue verbreek en my onveilig laat voel,” erken sy. “Dit (die voorval in Londen) is nie die eerste keer nie. Dis die probleem. Maar iemand het dit hierdie keer gesien. Ek het niemand geroep nie. Ek het in LA met genoeg polisiemanne te doen gehad. Ek is net uit die huis en het by die Connaught (Hotel) gaan oornag.

A photo posted by Lindsay Lohan (@lindsaylohan) on

“Ek het die afgelope week in Sardinië op my vriend Marco Mavilla en sy lieflike gesin se seiljag deurgebring en gehengel. Ek het gemediteer en in die see geswem en na George Michael se liedjie Faith geluister. Die lirieke is baie gepas,” het sy gedeel.

Met die vierkaraat-smaragring waarmee Egor haar verlede September om haar hand gevra het, steeds aan haar vinger, het sy gesê: “Ek het dit, selfs ná dit alles, nie afgehaal nie. Om die waarheid te sê, ek wou hê dinge moes uitwerk, maar ek is nou nie meer so seker ek kan nie.”

Oor haar trouplanne, wat laat vaar is, het sy gesê: “Ons wou volgende Mei langs die Como-meer trou. Ons moes nou albei in Italië gewees het om na troulokale te kyk. Ek wou trou en gevestig raak. Ek wou altyd vier kinders hê en ek en Egor het oor ’n gesin gepraat.”

Lindsay het aan die koerant gesê sy het probeer om na Egor uit te reik ten einde ’n versoening te bewerkstellig, maar sy het min hoop dat hulle hul verhouding weer aan die gang sal kry.

© Cover Media