’n Beweerde onderonsie Sondag tussen kinders in die speel-area van ’n bekende restaurant het in ’n aaklige bekgeveg – en byna meer – tussen die betrokke kinders se ouers gelei.

Die voorval het by die Texamo Spur in die Glen-winkelsentrum in Oakdene aan die ooste van Johannesburg plaasgevind.

Die vrou se dogtertjie het glo die man se seuntjie teen sy kop geklap terwyl hulle in die speel-area was.

Die pa beweer hy het die voorval gesien en hy het daarna die ma van die dogter verwoed konfronteer. Vandaar het die vonke en die vloekwoorde tussen die twee gespat. In ’n stadium lig die man dreigend sy hand asof hy die vrou gaan klap terwyl hy haar nog vloekwoorde toesnou. Verstomde restaurantgangers begin opstaan en dit wil voorkom asof van die kinders aan die tafel waar die onderonsie plaasvind, na ’n volgende tafel padgee. Omstanders en personeel probeer die woedende man wegkeer, maar nie voordat hy die tafel probeer omkeer nie.

In ’n stadium wil dit voorkom asof ’n ouer vrou die vrou, wat in hierdie stadium tierend op die man terugskree, probeer kalmeer en aansê om liefs te gaan sit.

In ’n verklaring uitgereik deur Spur word genoem dat sekuriteitspersoneel ontbied is toe die voorval al hoe heftiger geraak het. Die personeel en bestuur het probeer om die situasie te ontlont maar is telkemale deur die “woedende man” weggestoot. Waarskuwing: Kru taal

  “Nadat ons die video gesien het, is ons geskok dat volwassenes op dié manier kon optree, veral met soveel kinders naby,” lui die verklaring.

“Ons is baie teleurgesteld dat kinders aan hierdie soort gedrag blootgestel is en wil graag die publiek en ons lojale ondersteuners verseker dat ons geen vorm van rassisme of geweld enigsins goedkeur nie.”

Die groep het hulle ook heftig uitgespreek teen enige vorm van geweld teen vroue en kinders, ongeag die omstandighede.

Bron: news24.com