En die Automobiel Assosiasie (AA) en departement van vervoer het alle rede om sulke vrese te opper:

Die reeds 17% meer padsterftes van 1-19 Desember as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, is ’n vroeë aanduiding dat dié feesseisoen-tol die ergste in etlike jare kan wees, maan die AA. In dié skaars drie weke is 845 mense reeds op ons paaie dood.

"En ongelukkig openbaar ’n ontleding van die syfers ’n tendens – ’n gebrek aan wedersydse respek onder motoriste," meld die AA. "Bestuurders se ingesteldheid is weereens die oorsaak van baie noodlottige ongelukke; en die probleem raak blykbaar erger, nie beter nie."

Die minister van vervoer, Dipuo Peters, het 82% van noodlottige ongelukke aan menslike faktore toegeskryf, 10% aan pad- en omgewingsfaktore en 8% aan voertuigfaktore in ’n voorlopige feesseisoen-beoordeling tot middel vandeesmaand. "Ons verdoem diegene wat volhard met  onverantwoordelike en roekelose padgedrag. Hul onverskillige houding het die lewe van talle onskuldiges kortgeknip," sê sy.

Met voetgangers wat 35% van dié sterftes verteenwoordig, pleit die AA ook opnuut dat almal wat langs of digby paaie stap of draf, hulself so sigbaar moontlik moet maak, veral in swak beligte areas. Motoriste moet ook fyn oplet na voetgangers wat soms onder die invloed van drank ’n groot gevaar vir hulself en vir bestuurders inhou. Benewens die sterftes is nog ’n ontstellende syfer die meer as 2 500 mense wat byvoorbeeld in Gauteng alleen weens dronkbestuur gearresteer is, noem die AA. En hulle vra motoriste opnuut om ook dié wenke te onthou:

    • Beplan jou roete. Stel vooraf die padtoestande en verwagte weer vas. Beplan dan ook vooruit vir slaapplek as jy moet oornag.
    • Slaap goed die aand voor jou vertrek sodat jy die lang pad met ’n helder gees kan pak. As jy tam is agter die stuurwiel stel jy jou eie gesin en ander padgebruikers in gevaar. Volgens onlangse navorsing van die Amerikaanse AA kan uitputting agter die stuur omtrent dieselfde uitwerking hê as drink en bestuur.
    • Hou elke 200 km stil en rus vir minstens 15 minute. Dis sal jou verfris en fokus help herwin.
    • Maak seker dat almal se veiligheidsgordels vas is. En jong kinders moet uiteraard deur sitplekstoeltjies beskerm word (ten minste as hulle 3 jaar en jonger is).
    • Waar moontlik, moet iemand anders met ’n bestuurderslisensie jou liewer aflos.

  • Gun jouself genoeg tyd om jou bestemming te bereik. Kom eerder ietwat laat dog heelhuids by jou bestemming aan as dalk glad nie.
  • Trek gerieflike, lospassende klere aan wat vrylike beweging agter die stuur toelaat.
  • Drink genoeg water en maak gereeld ’n venster vir vars lug oop, al het jy lugreëling.
  • Gehoorsaam deurgaans padreëls en -tekens: hulle is daar vir ons almal se veiligheid.
  • Waak teen alles wat jou aandag van die pad kan aftrek; van selfone tot jou draai om met ’n passasier langs jou of in die agtersitplek te gesels.
  • Wees bedagsaam teenoor ander bestuurders en betoon respek vir hul padgebruikregte – jy verwag dieselfde van ander.
  • Oor vloedsituasies: Gehoorsaam alle padsluitings en alternatiewe roetes. Moenie vloedwater in jou motor probeer oorsteek nie, al lyk dit hoe veilig – dit kan dieper wees as wat jy dink en die padoppervlak kan beskadig wees. As jy geen ander alternatief het as om deur water te ry nie, moet jy dit so stadig moontlik in eerste rat doen met altwee hande op die stuur. Vinnig ry deur water kan die motor traksie en jou beheer laat verloor.
  • Laastens kan die belangrikheid van bande in ’n goeie toestand nooit oorbeklemtoon word nie. Verweerde of beskadigde bande kan veral op ’n hoofweg dodelik wees. Gaan dus bandtoestand en -druk elke keer na voordat jy die lang pad aandurf.