Robert Kraemer se vennoot, Leon van Huyssteen, is steeds geskok oor die skietvoorval wat deur die gemeenskap van Welgemoed, Bellville, geruk het.

Boonop is Robert die tweede stigterslid van @Sphere Consult wat oorlede is.

“En die dood verander mos alles,” sê Leon.

Robert (60) het homself die afgelope naweek in sy huis in Welgemoed geskiet kort nadat hy vir Stéphan Buys (55) doodgeskiet het.

Robert, ’n makelaar, en Stéphan, 'n besigheidsman, was glo sakevennote, berig Netwerk24. Hulle was ook albei in dieselde kerk.

In 2007 het Robert saam met Leon en Carel Wessels die finansiële dienste-onderneming genaamd @Sphere Consult begin. Carel is egter in 2007 oorlede na hy met ’n motorfiets verongeluk het.

Dié drie mans het glo ’n “passie” vir finansiële dienste gedeel. Volgens die onderneming se webblad help hulle kliënte met verskeie finansiële dienste soos onder meer beplanning vir aftrede, beleggings, spaarplanne, lewensversekering en boedelbeplanning.

“Ek en Robert het in 2007 ’n vennoot verloor en ons het daarna geveg om hierdie besigheid van ons op ’n gesonde voet te kry,” vertel Leon.

“Dit was moeilike beginjare maar ons het goed begin ontwikkel en was sedert 2011 op ’n gesonde voet.”

Leon sê hy het nét goeie herinneringe van Robert en beskryf hom as iemand met integriteit.

“Hy was ’n baie lojale vriend. Almal met wie jy praat sal ook vir jou sê Robert was ’n baie lojale vriend. Hy het altyd sy beste gedoen vir sy vriende en kliënte. Hy was ’n familieman en het geleef vir sy gesin. Dit was ’n voorreg om saam met hom te werk.”

Volgens Leon het Robert graag gholf gespeel en soms gejag.

Robert se Facebookblad getuig van ’n liefdevolle man, pa en oupa. Hy het dikwels foto’s saam met sy vrou, Anita, gedeel.

En Anita het hom vroeër vanjaar met sy verjaarsdag beskryf as die “spil” waar rondom haar en hul vier kinders se lewens draai.

“Onverskrokke gryp jy elke oomblik aan, in verwondering kyk ons hoe voluit jy die lewe geniet,” het sy by ’n foto van ’n aansienlike jonger Robert geskryf.

Hy het ook graag by Onrus naby Hermanus vakansie gehou en het ’n strandhuis in dié dorp.

Twee dae ná die raaiselagtige tragedie in Kaapstad se noordelike voorstede afgespeel het, is die motief daarvoor nog onbekend, sê polisiewoordvoerder, Lt. Kol. André Traut.

“Die omstandighede rondom ’n moord en ’n oënskynlike selfdood word ondersoek,” sê André.

Die skietvoorval het omtreeks 12:20 Saterdagmiddag gebeur.

“’n Moorddossier is geopen en ’n geregtelike doodondersoek word gedoen.”

Leon is ook nie seker wat presies die verwantskap tussen Stéphan en Leon was nie. “Stéphan het Leon jare terug hier by ons kantoor besoek. Maar ek het hom baie lanklaas gesien.”

Volgens Leon was Robert ’n sakeman wat verskeie sakebelange gehad het.

“En omdat ons lede van ’n BK (beslote korporasie) is, het hy sy kliëntebasis gehad en ek myne. Ons het nie kliënte gedeel nie. Een van sy kliënte kan by my verby stap en ek sal dit nie weet nie.”

Netwerk24 het berig dat Stéphan en Robert sakevennote was.