Op 'n video, geneem deur een van die passasiers, kan gesien word hoe polisiemanne die 15-jarige Juliette, haar ouers en haar broer van die vlug van United Airlines af begelei nadat die loods 'n noodlanding uitgevoer het in Salt Lake City, Utah.
Dr Donna Beegle, Juliette se moeder, beplan nou verder om 'n hofgeding teen die lugredery aanhangig te maak om die stigma rondom outisme beveg.

Dr Donna Beegle, Juliette se moeder, beplan nou verder om 'n hofgeding teen die lugredery aanhangig te maak om die stigma rondom outisme beveg.

Hierdie vernederende insident het op 5 Mei ontvou toe Juliette, wat al dikwels saam met haar moeder gevlieg het, geweier het om haar vooraf-verpakte middagete te eet.

Om haar te kalmeer het Donna die vlugkelners gevra om vir haar van die kos wat uitsluitlik vir eersteklaspassassiers bedoel is, te bring.

Volgens Donna is haar dogter 'n kieskeurige eter en sukkel sy om verbaal te kommunikeer.

Ná 'n 25 minute lange stryery het die kelners vir Donna gesê hulle kan nie kos van die spyskaart vir eersteklasreisigers af bring nie, want Juliette vlieg in die ekonomiese klas.

Die vlugkelner het uiteindelik ingestem om dit te doen. 'n Halfuur later het 'n lid van die vlugpersoneel egter aangekondig dat die vliegtuig 'n noodlanding gaan uitvoer as gevolg van 'n probleem met een van die passasiers se gedrag.

Donna en haar gesin het hulle nie verset toe hulle deur polisiebeamptes van die vliegtuig af begelei is nie.

United Airlines het die besluit verdedig deur te verklaar dat die veiligheid van die passasiers en die bemanning in gevaar was.

Die redery se verklaring lui: “Nadat hulle gedurende die vlug gepoog het om dr Beegle en haar dogter tevrede te stel, het die bemanning die besluit geneem wat die beste was vir die veiligheid en gerief van al ons kliënte deur die vlug na Salt Lake City te herlei toe die situasie ontwrigtend geraak het. Ons het vir die passasiers plek bespreek op 'n ander redery en het ons vlug na Portland voortgesit. ”

Volgens een van die passasiers het Juliette onbeheersd gegil gedurende die binnelandse vlug.

Donna hou voet by stuk dat haar dogter nooit 'n bedreiging vir enigiemand was nie en dat van die ander passasiers gedink het die insident was belaglik.

Donna het eise ingestel teen United Airlines, sowel as teen die Federal Aviation Administration.