Londen. –

Mark Colborne (37), ’n selferkende bewonderaar van die Noorse massamoordenaar Anders Breivik, het gesê hy wou ’n aanval “ten bate van die Ariese mense” uitvoer.

Hy is gister aan die beplanning van ’n terroristeaanval skuldig bevind nadat die jurie in Mei nie oor ’n uitspraak kon besluit nie.

Die aanklaers het inskrywings in Mark se dagboek voorgehou as bewyse dat hy Charles en William in ’n sluipmoordaanval wou doodskiet.

Hy het ook chemikalieë, stofmaskers, tregters, spuitnaalde en handskoene bekom wat hy in ’n sianiedaanval wou gebruik, het die aanklaers aangevoer.

Mark het die aanklagte van terrorisme ontken en aan die hof gesê sy dagboekinskrywings was “uitvarings” wat hy geskryf het terwyl hy nie sy medisyne vir depressie geneem het nie.

Die hof het gehoor Mark het “gemarginaliseer” gevoel as ’n wit man met rooi hare.

Hy het in sy dagboek geskryf hy wil ’n “militêre terroris” word en “toeslaan aan die hart van die Kaukasiese ras met donker hare en oë,” het die BBC voorheen berig.

Bronne: DPA, News24