Verstommende inligting dui daarop dat Omar Mateen, wat 49 mense op 12 Junie in ’n Orlando-nagklub doodgeskiet het, tydens die skokkende aanval teksboodskappe aan sy vrou, Noor, gestuur het.

NBC News haal ’n bron aan wat na aan Noor is. Die bron het aangedui dat sy ’n oproep van Mateen se ma gekry het om uit te vind of sy weet waar haar man is.

Volgens die bron het sy rondom 02:30 Sondag ’n teks aan Mateen gestuur om uit te vind waar hy is. Dit was midde-in die slagting wat by die nagklub plaasgevind het.

Lees ook: Orlando-slagting: Dit is wat ons van die massamoordenaar weet

Sy antwoord was iets in dier voege: “Sien jy wat besig is om te gebeur?” Noor het nee geantwoord. Mateen het weer gereageer met “Ek’s lief vir jou, babe.”

Nog ontstellender is dat hy ook aktief op sosiale media was met dooie en gewonde mense rondom hom terwyl ander vreesbevange partytjiegangers in badkamers weggekruip het.

Kort voor die aanval het Mateen sy alliansie met Aboe Bakr al-Baghdadi (IS-leier) op Facebook bekendgemaak.

Sen. Ron Johnson het in ’n brief aan Mark Zuckerberg versoek dat Facebook alle moontlike data rondom Mateen se aktiwiteite op Facebook verskaf. Dit sluit ook boodskappe, foto’s, plasings en aktiwiteitsdata in. Dit moet nie later nie as 17:00 op 29 Junie verskaf word.

[caption id="attachment_129193" align="aligncenter" width="600"]Skermgreep: YouTube Skermgreep: YouTube[/caption]

In die brief noem sen. Johnson dat daar vyf Facebook-rekeninge met Omar Mateen verbind word.

Mateen het glo in Mei 2016 Facebook ingespan om meer uit te vind oor die San Bernardino-terroriste en op 4 Junie het hy die Baghdadi-toespraak op dieselfde platform opgesoek.

Lees ook: 50 dood, talle beseer ná massaskietery by nagklub

Nadat die skote op 12 Junie begin klap het, het Mateen ’n rukkie verpoos – lank genoeg om aanlyn na “Pulse Orlando” en “skietery” te soek voor hy sy moorddadige sending sou hervat. Sou dit dalk wees om uit te vind hoe ver die nuus versprei het?

Daarna het hy minstens vyf oproepe gemaak: drie na 911, een na ’n onbekende vriend en een na ’n plaaslike televisiestasie waarin hy glo homself bekendgestel het as “Ek is die skieter. Dis ek.”

Volgens Fox News het ’n FBI-bron aangedui hy het tot 16 oproepe in dié tyd gemaak. Daar word nou na elkeen gesoek wat in hierdie tyd ’n oproep van die massamoordenaar ontvang het. Dis egter die teksboodskappe tussen hom en sy vrou, Noor Salman (30), tydens die aanval wat nou ’n fokuspunt is, veral wat Noor se rol in die aanval kon wees.

Sy het haar man, met wie sy in 2013 getroud is, glo op minstens een uitstappie vergesel toe hy ammunisie gaan koop.

Boonop het sy voor die noodlottige aand saam met hom na die Pulse-nagklub gery, in alle waarskynlikheid ’n verkenningstog.

Noor beweer sy het haar man probeer keer om met sy vernietigende plan voort te gaan. Tog het sy nie die owerhede daarvan in kennis gestel nie. Na bewering het sy aan die ondersoekspan gesê sy het Mateen probeer bel, maar kon nie na hom deurkom nie.

Die New York Daily het nie doekies omgedraai op hul voorblad van 15 Junie nie. In sterk letters basuin hulle dit uit: “Sy kon hulle almal gered het!”

[caption id="attachment_129194" align="aligncenter" width="600"]Skermgreep: New York Post Skermgreep: New York Post[/caption]

Intussen het federale aanklaers ’n jurie byeengebring om Noor te ondersoek, moontlik met die opsie om haar as ’n medepligtige aan die afgryslike slagting aan te kla.

Bronne: cbsnews.com, nydailynews.com, cnn.com, foxnews.com