’n Bloemfonteinse egpaar wat na bewering hul twee jong kinders verskeie kere in hul “vuil huis” sonder water, kos en krag toegesluit en hulle gedwing het om dwelms te gebruik, is van die skokkende getuienis wat in die Bloemfonteinse landdroshof aangehoor is.

Ao. Lesenyengo Matekane, die ondersoekbeampte, het in die egpaar se borgtogaansoek getuig die egpaar se 11-jarige dogter is ook deur haar ma vasgedruk sodat haar vriende die meisie kon verkrag berig Volksblad.

Wanneer die kind geweier het om seks met die mans te hê het haar ma (34) haar met die vuis geslaan en het die vrou ook probeer om haar kind se vingers te breek, het Matekane getuig.

Die egpaar, wat nie geïdentifiseer mag word nie om hul kinders se identiteit te beskerm, het in die hof op aanklagte van verkragting, seksuele uitbuiting van kinders, die versuim om aan die kommissie teen seksuele misdrywe teen kinders verslag te doen en kindermishandeling, verskyn.

Die staat staan die borgtogaansoek teen.

Volgens Volksblad is Matekane deur die staat geroep om te getuig waarom die egpaar nie op borgtog vrygelaat moet word nie.

Landdros Akona Mqudlwa het die verhoor tot Woensdag uitgestel wanneer sy uitspraak sal lewer.

Lees meer hier: www.netwerk24.com

Bronne: Netwerk24, News24