Geheime bandopnames onthul glo die prinses van Wallis se woorde: “Ek was so verskriklik bedruk en het probeer om my polse met skeermeslemmetjies te sny.”

Die “selfdood-bandopnames” is glo in 1991 met die hulp van ’n vriendin opgeneem en is 20 jaar lank geheim gehou. Dit word egter nou gebruik in ’n herpublikasieweergawe van Andrew Morton se boek Diana – Her True Story – 20 Years Later.

Morton het voorheen oor Diana se selfdoodneigings gepraat, maar hy het “vriende” aangehaal. Volgens hom is dit die eerste keer “dat die prinses haar kant van die saak deel”.

Sy vertel hoe ongelukkig sy in Balmoral was. “Ek het verskriklik maer geword. Mense het begin opmerk: ‘Jou geraamte wys.’ Ek was teen Oktober (1981) in ’n baie slegte toestand. Ek was so depressief en het probeer om my polse met skeermeslemmetjies te sny. Dit het aanhoudend gereën. Ek het vroeg afgekom (Londen toe) om behandeling te kry, nie omdat ek Balmoral gehaat het nie, maar omdat ek so verskriklik sleg gevoel het.”

Sy onthul sy het op hul troue geweet Charles was verlief op Camilla Parker Bowles (met wie hy nou later getroud is).

“Ek het na haar (Camilla) gesoek terwyl ek met die kerkpaadjie opgestap het. Ek het natuurlik geweet sy is daar. Ek het haar gesoek. Ek het basies net daarop gefokus om my pa met die kerkpaadjie op te kry. En ek onthou ek was verskriklik bekommerd oor my kniebuiging voor die koningin.

“Ek het nietemin die bopunt van die paadjie bereik. Ek het gedink die hele affêre is histeries, om te trou, in die sin dat dit so ’n volwasse stap is, en hier was Diana, ’n kleuterskoolonderwyseres.

“Ek onthou ek was so verlief op my man dat ek nie my oë van hom kon wegskeur nie. Ek het gedink ek is absoluut die gelukkigste vrou ter wêreld. Hy gaan my oppas. Wel, dit was ’n verkeerde aanname.

“Terwyl ek met die paadjie teruggestap het, het ek Camilla gesien – dofgrys pildooshoedjie met ’n sluier, ek het dit alles raakgesien, ook haar seun, Tom, wat op ’n stoel staan. In my herinnering gegraveer – tot vandag toe.”

Sy gee meer besonderhede oor haar emosies op daardie dag: “Dit was ’n wonderlike gevoel toe ons uitstap: almal juig ‘hoera’, almal is gelukkig omdat hulle gedink het ons is gelukkig. En in my gedagtes was ’n yslike vraagteken. Ek het besef ek het ’n enorme rol aanvaar, maar het geen idee gehad waarin ek my begeef het nie, absoluut geen idee nie.

“Terug Buckingham-paleis toe en al die foto’s is geneem. Niks tasbaars nie, niks. Ek het basies rondgedwaal en probeer uitvind waar ek moes wees, terwyl ek tussen my strooimeisies was en hofknape aan my lang sleep klou.

“Ons verskyn toe op die balkon. Wat ons gesien het, was oorweldigend, so verootmoedigend, al hierdie derduisende mense wat so gelukkig is. Dit was wonderlik. Ek het langs Charles gesit by die huweliksontbyt, wat eintlik ’n middagete was. Ons het nie met mekaar gepraat nie. Ons was so geskok. Die hele affêre het my uitgeput.

“Ek het nooit werklik probeer om die troue af te stel nie. Die ergste oomblik was toe ons by Broadlands aankom. Dit is die familielandgoed van Charles se grootoom, wyle lord Mountbatten, waar die koninklike paartjie die eerste deel van hul wittebrood deurgebring het.

“Jy weet, ek het gedink dis vreeslik somber. Ek was verskriklik vol hoop en dit is teen die tweede dag verpletter.”

Sy erken dat drome oor haar mededinger in die liefde selfs tydens die wittebrood by haar gespook het. “Ek het ’n algehele obsessie met Camilla gehad. Ek het Charles nie vertrou nie; ek het elke vyf minute gedink hy bel haar om te vra hoe hy sy huwelik moet hanteer.”

Dis geen wonder nie dat haar bulimie weer opgevlam het. Sy sê sy het op die vierde been van die wittebrood, aan boord van die jag Britannia, vier keer per dag opgegooi.

“Ek het enigiets wat ek kon vind, verslind en twee minute later opgegooi. Verskriklik moeg. Dit het geleidelik die gemoedskommelings aan die gang gesit, die een oomblik was jy gelukkig, die volgende oomblik huil jy jou oë dik. Ek onthou ek het tydens ons wittebrood bitterlik gehuil. Ek was so vreeslik moeg, heeltemal om die verkeerde redes.”

Sy gaan voort en onthul nog ander hartroerende besonderhede, byvoorbeeld toe sy op 21 Junie 1982 aan haar oudste seun, prins William, die lewe skenk. “Ons moes ’n datum in die dagboek vind wat Charles en sy polo gepas het.”

Sy sê hulle moes van induksie gebruik maak met William se geboorte “omdat ek die druk van die pers nie verder kon verdra nie. Dit het ondraaglik geraak. Dit het gevoel asof almal elke dag alles kontroleer wat ek doen.

“Alles was buite beheer; alles. Ek het nie baie goed gevoel nie en het bitterlik gehuil.”

Bronne: Mirror.co.uk, Daily Mail, Daily Beast