Die verdediging, onder leiding van adv. Terry Price SC, het die kruisondervraging van die staatsgetuie, Clarishka Kapp, voortgesit. Clarishka, ’n vriendin van Christopher Panayiotou se minnares, Chanelle Coutts, het in trane uitgebars toe adv. Price haar uitgevra het oor duur geskenke wat Panayiotou vir haar gekoop het.

Sy het Panayiotou as 'n vrygewige man bestempel en getuig dat hy Polo-handsakke van ongeveer R2 000 elk, ’n horlosie en duur haarstileerder vir Chanelle gekoop het.

Lees ook: Sappige stories oor Jayde Panayiotou se man en skelmpie kom uit in hof Maar sy het nêrens in haar getuienis melding gemaak van enige geskenke wat Christopher vir haar self gekoop het nie. Adv. Price het gesê sy het soortgelyke geskenke ontvang en dit met opset nie in die hof genoem het nie. Hy het aangevoer dat Clarishka ook geswyg het oor ’n iPhone van R5 000 wat Panayiotou vir haar gegee het. Toe adv. Price haar herhaaldelik vra waarom sy niks van die duur geskenke wat Panayiotou vir haar gekoop het in haar verklaring en getuienis genoem het nie, het sy in die getuiebank begin huil.

Nadat die hof vir 'n ruk verdaag het, het Clarishka getuig oor Chanelle se buite-egtelike verhouding met Panayiotou. Sy het gesê Panayiotou het haar die oggend van sy troue met Jayde gebel en gesê hy is bang hy gaan Chanelle verloor.

Clarishka het gesê sy het geweet Chanelle slaap soms in Christopher se huis oor wanneer Jayde nie daar is nie. Adv. Price het haar ook uitgevra oor 'n foto’s wat die drie aan mekaar sou gestuur het.

Sy het gesê sy het 'n foto van haar, kaalbolyf in 'n bad met 'n glas wyn, aan Panayiotou en Chanelle gestuur. In reaksie daarop het Chanelle vir haar 'n foto van haar en Panayiotou saam in die bed gestuur.

Die staat, onder leiding van adv Marius Stander, het daarna vir a.o. Paul Franks, 'n lid van die polisie se soek-en reddingseenheid ondervra.

Jayde se lyk is op 'n groot skerm in die hof vertoon om te wys waar a.o. Franks haar op 21 April 2015 aangetref het. 'n Nabyskoot van Jayde se bleek gesig het ook op die skerm verskyn.

Lees ook: Só het Jayde Panayiotou gesterf

Gesinslede van beide Jayde en Christopher het hoorbaar na hulle asems gesnak. Michelle Inggs, Jayde se ma, het die hofgebou in trane verlaat. Nadat o.a. Franks getuig het hoe hy op Jayde se lyk afgekom het en die polisie ontbied het, het die hof verdaag. Gedurende die verdaging het Fornoulla Panayiotou, Jayde se skoonma, haar kop laat sak en trane afgevee. Die verhoor word môre voortgesit. Christopher word as die vermeende baasbrein agter Jayde se moord en ontvoering in April 2015 verhoor. Sy medebeskuldigdes is Sinethembe Nenembe en Zolani Sibeko.

Die hof verdaag tot Dinsdag, 18 Oktober.