’n Polisiehelikopter het in die lug gehang en die openbare-orde-polisie het deur die groot skare beweeg.

In ’n stadium het die groep verby die polisie probeer druk. Baie betogers het stokke, stawe en ander items by hulle gehad.

’n Man het aan ’n News24-verslaggewer op die toneel gesê: “Die buitelanders het regte vuurwapens. Hulle verkoop dwelms en is betrokke by prostitusie. Die munisipaliteit help hulle. Hulle moet loop.”

Party buitelandse burgers het op die groep geskree.

Betogings in Atteridgeville

’n Groep wat hulself die Mamelodi Concerned Residents noem, lei die optog na die departement van binnelandse sake uit protes teen immigrante in Suid-Afrika.

Wetstoepassingsbeamptes sal ontplooi word langs die roete en by plekke waar memorandums oorhandig sal word, het die polisie se nasionale gesamentlike-operasie-en-intelligensiestruktuur Donderdag in ’n verklaring gesê.

Vroeër Vrydagoggend het betogers verskeie strate in Atteridgeville versper en verhoed dat inwoners werk of skool toe gaan.

Klippe is gegooi en buitebande aan die brand gesteek.

Beamptes het die rommel later verwyder sodat die verkeer kon vloei. Die polisiewoordvoerder lt.kol. Lungelo Dlamini het gesê die polisie kon nie bevestig of die betoging met die optog verband hou nie. Plundery Geen beserings is aangemeld nie en niemand is in hegtenis geneem nie. “Die plunder van ’n vragmotor is aangemeld. Ons wag nog om dit te bevestig.”

Supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê hulle het berigte ontvang dat verskeie winkels geplunder is, maar hulle moet die voorvalle ook nog bevestig.

Saterdag het inwoners van Pretoria-Wes huise deursoek wat hulle beweer as bordele en dwelmhuise gebruik word. Hulle het geëis dat “koppelaars” prostitute vrylaat. Twee huise is aan die brand gesteek. Op 11 Februarie is minstens 10 huise wat vermoedelik vir dwelmhandel en prostitusie gebruik word in Rosettenville, Johannesburg, aan die brand gesteek. Inwoners het beweer Nigeriërs sit agter die misdaadaktiwiteite. Bron: news24.com

Reaksie op Twitter