Die hof is ’n virtuele toer van 360 grade van die huis gegee met beeldmateriaal wat met ’n Spheron-toestel geneem is. In die sitkamer is twee staalpilare waartussen een van die slagoffers, ’n 13-jarige seun, volgens die staat vasgemaak is.

Die huis en werf het onnet gelyk. Komberse en klere was langs ’n gat onder die huis gestrooi. Rommel het gedryf op die bietjie water wat in die swembad oor was.

“Die water in die swembad het ’n tyd lank nie chloor gesien nie,” het regter Eben Jordaan opgemerk. Op een van die foto’s is ’n rot in die huis sigbaar.

Lees ook: Huis van gruwels: ‘Ons wens almal dit wil nou net verby kom’

Ao. Lourens Smit, wat die 13-jarige seun by ’n tante se huis op Warden in die Vrystaat gekry het, het getuig die kind was erg gekneus en het gehuil. Die seun is daarheen geneem nadat hy na bure se huis in Springs gehardloop het om hulp te vra.

Ao. Smit, van Warden, het getuig die polisie van Springs het hom gevra om na ’n huis te gaan waar die seun was. Hy het gesê hy was geskok oor die seun se toestand.

“Albei sy oë was blou geslaan. Een van sy wange was ook blou en hy het ’n sny aan sy een oor gehad,” het die beampte gesê.

Hy het getuig hy het vir die seun koeldrank, lekkers en skyfies gekoop, maar hy wou niks daarvan hê nie.

Ouers in hof

Albei ouers was Vrydag in die hof. Hulle het ’n paar meter uitmekaar gesit en skaars oogkontak gemaak. Die pa, ’n lang man, het ’n pers blokkieshemp gedra. Sy hare was netjies gekam. Die ma het ’n swart top met silwer strepe aangehad.

Hulle word verhoor op aanklagte dat hulle hul vyf kinders verwaarloos en mishandel het.

Die man het 22 aanklagte teen hom en sy vervreemde vrou 20. Dit sluit in verkragting, kindermishandeling en dwelmbesit en -handel. Albei is 36 jaar oud.

Die man beken skuld op net een van die 22 aanklagte teen hom, naamlik dat hy ’n polisiebampte probeer verhinder het om sy werk te doen. Sy vrou ontken skuld op al die aanklagte teen haar.

Die twee se name mag nie bekendgemaak word nie om die identiteit van hul kinders te beskerm, van wie party minderjarig is.

Bron: News24

Lees ook op Huisgenoot.com:

Vermiste Japannese seuntjie wat as straf langs pad afgelaai is, gevind

‘Ek is glad nie bang nie, tannie’: Jong kankerlyer staak behandeling en stel vertroue in geloof

Is hierdie dalk Bobby se grootste aanhanger?

Jy sal nie glo hoekom kannetjie sy pa by die polisie aangekla het nie!

Wanhopige ma se geskenk vir haar siek kind gaan jou hart breek