Du Preez se vrou, Thea (43), is twee keer geskiet, albei skote voldoende om noodlottig te wees. Sy seun, Phillip (15), is in sy regterslaap geskiet. Die impak van die skoot het sy kopbeen in twee gebreek.

Du Preez het wel skuld beken op die besit van ’n 9 mm-vuurwapen, maar onskuldig gepleit op drie moordklagte, ’n klagte van regsverydeling en die besit van ammunisie.

Dwelmbase Sedert sy eerste verklaring die dag van die moord waarin inbrekers blameer is, het Du Preez dit nog twee keer aangepas: Nigeriese dwelmbase en Libanese dwelmbase was glo agter die moord op sy gesin. Hul motief? Omdat hy maande lank geteister is omdat hy nie dwelms vir hulle wou vervoer nie.

’n Kollega van Du Preez, Stefan Venter, het die hof Dinsdag vertel hoe ’n huilende Du Preez hom gebel het. Hy het beweer twee mans het ingebreek. Brandon Grové (21), vriend van Du Preez se dogter, Carlia (17), het aan die hof vertel hoe Du Preez na O So Heavenly-seep geruik het. Du Preez het glo ook heeltyd aan hom gesê: “Sorry, my tjomma. Sorry, my tjomma.”

Hy het ook getuig daar was voor die voorval onmin tussen Carlia en Du Preez. Ook dat Du Preez irritasie teenoor sy seun, Phillip, getoon het. Carlia is ses keer geskiet: drie keer deur die nek en een keer deur die linkerhand. Die staatspatoloog het aangedui dit wil voorkom of sy die skote probeer keer het.

Woensdag het ao. Francois Alberts getuig hy het Du Preez op 3 Desember na sy kantoor geneem om ’n volledige verklaring af te lê. Vuurwapens Met hul terugkeer na die moordtoneel, is hy ingelig oor twee vuurwapens wat gevind is. Du Preez het glo aangedui hy het nie daarvan geweet nie en vermoed die verdagtes het dit dalk daar gelos. Maar die verdagtes het volgens sy verklaring by die agterdeur uitgehardloop.
Die blou oliefilter Du Preez se verklaring het aangetoon hy het reeds tevore ’n knaldemper gemaak wat uit ’n oliefilter en kussing bestaan. Dit was glo nodig sodat hy, indien hy op die dwelmbase moes skiet, nie sy gesin sou wakker maak nie. Benjamin Dippenaar het getuig Du Preez het hom genader om ’n gat in ’n oliefilter te boor.
Du Preez se vingerafdrukke is op die kleefband gevind wat gebruik is om die kussing aan die oliefilter te heg.
DNS-toetse het bewys daar is bloed op ’n baadjie, kouse en die “knaldemper-kussing” gevind. Die DNS stem ooreen met dié van Thea.

Die hof verdaag tot Vrydag 09:30.

Bronne: 906fmstereo.com, netwerk24.com