Die liggaam van ’n 91-jarige vrou is Dinsdag deur die polisie in haar woonstel in die Duitse stad München gevind .

Die vermoede bestaan dat sy reeds in April 2015 gesterf het. Haar bure het egter eers onlangs die polisie ontbied nadat hulle haar vir ’n geruime tyd nie gewaar het nie.

Ondersoek word ingestel om die oorsaak van haar dood te bepaal.

Ongelukkig is hierdie nie ’n uitsonderlike geval nie. Enkelinge en mense wat ’n kluisenaarsbestaan voer kan maklik op dié manier “vergeet” word. Gepaard met gebrekkige belangstelling deur familie, vriende en selfs kollegas kan mense wat in hul eie huise sterf vir weke, selfs jare, van vergeet word.

“Vermiste” mense dood in hul eie huise gevind

Hope Wheaton (76) en haar ouer suster, Lynda Waltman (74), het in Brookline, Boston (in die deelstaat Massachusetts), gebly. Volgens die bure het hulle Hope sowat iewers in die middel van 2015 laas gesien. Lynda het geweier om vir hulle te sê waar Hope was. Toe ’n familielid die susters in Desember 2016 wou besoek, het sy vir Hope in die kombuis van die susters se multi-miljoen rand huis aangetref – waar sy vermoedelik gelos is nadat sy die vorige jaar gesterf het.

Toe die 21-jarige Dyqain Rogers va Erie, Pennsilvanie, op 1 November 2014 verdwyn het, het sy familie die wêreld gefynkam, soektogte georganiseer om na hom te soek. In November 2016 ontbied sy ouma hulp nadat sy iets teen die solder-deur hoor val. Dit was Dyqain… Selfdood word vermoed.

In September 2016 het ’n 33-jarige man in Cloppenburg, ook in Duitsland, die oorblyfsels van ’n vrou wat vir 40 jaar vermis was, in die solder van ’n huis gevind wat hy wou restoureer. Sy het vermoedelik in die solder gaan lê, aan die slaap geraak en doodgevries.

Pia Farrenkopf (49) van Michigan in Amerika was in 2014 ses jaar lank vermis. Sy was ’n alleenloper. Dit was boonop aanvanklik verstaanbaar dat niemand haar regtig gemis het nie omdat sy gereeld op reis was. Sy’t ook haar rekeninge met die nodige debietorders betaal en die bure het seker gemaak haar grasperk is gesny. Toe verklaar die bank haar bankrot. Van die $54 000 (sowat R709 000) in haar bankrekening was daar niks oor nie omdat haar rekeninge deurentyd betaal is – sonder enige inkomste wat dit aangevul het. Een van Pia se nege sibbe, ’n suster, was ook nie juis bekommerd omdat sy nooit die telefoon geantwoord het nie. Vir hulle was sy bloot net ’n suksesvolle IT-werknemer. Toe word haar gemummifiseerde lyk in Maart 2014 gevind – in haar Jeep geparkeer in haar motorhuis waar sy ses jaar vantevore op pad was om iewers heen te ry.

In November 2013 het ’n nare reuk vanuit ’n vervalle huis in Oxfordshire, Engeland, die bure so gepla dat hulle die polisie ontbied het.

Hulle het die liggame van Caroline Jesset (minstens 50 jaar oud) en haar ma, Pauline (70), gevind. Die vermoede bestaan dat hulle reeds in Junie van daardie jaar oorlede is. Terloops, die bure sê hulle het Pauline 30 jaar laas gesien.