In ’n skokwending in die hoëprofielmoordsaak van ’n Duitse sakeman het ’n gevangene van die St. Albans-gevangenis buite Port Elizabeth getuig Panayiotou, wat ook hier aangehou word, was betrokke by die moord op Claus Schroeder in Augustus 2009.

Twee Duitsers, Jens Leunberg (37) en sy lewensmaat, Kristina Adler (39), word van die moord op Schroeder aangekla.

Die staat beweer toe Schroeder uitvind die paartjie het hom probeer bedrieg met die verkoop van sy plaas, het hulle hom vermoor.

Hulle het glo op so ’n wyse van sy lyk ontslae geraak dat die oorskot daarvan tot vandag toe nog nie gevind is nie. 

Die gevangene, Mark Nielson (50), wat tans tronkstaf uitdien vir bedrog, het Dinsdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth getuig Panayiotou het vervalste dokumente vir Leunberg gekopieer. 

By navraag het Danie Gouws, die Baaise prokureur wat die Duitse beskuldigdes verteenwoordig, aan Huisgenoot gesê dat sy kliente ten sterkste ontken dat hulle enigsins dokumente vervals of laat vervals het.

Die verhoor waarin Panayiotou teregstaan vir die moord op sy vrou word op Dinsdag 26 September hervat.