’n Tiener van Springs aan die Oos-Rand is onder raaiselagtige omstandighede tydens ’n vakansie in Mauritius dood.

Volgens die L'express, 'n Franse nuusblad daar, het Mundolene Vosloo (17) saam met haar pa, stiefma en twee broers gaan vakansie hou.

Die nuusblad skryf dat Mundolene Woensdagaand inmekaargesak het in die hotel waar die familie tuisgegaan het. Sy is kort daarna deur 'n plaaslike dokter dood verklaar. Sy het glo gesterf weens interne bloeding.

Hoewel die presiese omstandighede rondom haar dood nog nie bevestig is nie, is berigte ontvang dat Mundolene se stiefma, Marietjie Vosloo, haar glo na ’n rusie geslaan het.

’n Mauritiaanse polisiewoordvoerder het aan Huisgenoot bevestig dat Marietjie intussen aangekeer is. Sy word van manslag aangekla.

Mundolene was ’n leerling aan die Hoërskool Hugenote in Springs. “Ons het glad nie ’n idee wat aangaan nie! Dit is verskriklik om nie te weet nie, ” het Yolandé Smuts, Mundolene se tannie, aan Huisgenoot gesê.

Tyron Bothma, Mundolene se kêrel van Johannesburg, het ook haar dood aan Huisgenoot bevestig, maar wou nie verdere besonderhede gee nie. Haar ma en stiefpa is glo reeds op pad Mauritius toe.

Vriende het reeds vroegdag boodskappe van medelye en herinnering op haar Facebook-bladsy geplaas. “Ek met my Mundolene'tjie . . . jy met jou bandolientjie . . . sing ons die Oukraalliedjie saam . . . Ek gaan definitief die tye mis wat ek jou geken het vriendin. . . ,” lees een só boodskap aan Mundolene van Leon Saayman.

Die polisie in Springs het ook haar dood bevestig.