Minstens 247 mense is al dood ná Woensdagoggend se aardbewing in sentraal Italië, berig CNN.

In die klein Italiaanse dorpies wat vroeg Woensdagoggend omstreeks 03:36 deur die aardbewing, wat 6,2 op die Richterskaal gemeet het, getref is, het duisende reddingswerkers deur hope en hope rommel na oorlewendes gesoek.

In ’n video van Sky TG24 kan gesien word hoe ’n brandweerman in Armatrice deur die rommel soek. Die een oomblik kom hy af op ’n voet, dan ’n been en nog ’n been.

Hy en sy kollegas het bakstene en ander rommel weggegooi om by ’n klein agtjarige meisie uit te kom. Die brandweerman tel die meisie op en loop met haar uit die hope rommel.

Soos wat die meisie aan die brandweerman vasklou, skree iemand uit die skare “Bella ragazza” wat 'mooi meisie' beteken.

Die jongste dodetal wat Donderdagoggend gegee is, is 190 sterftes in die Rieti provinsie en 57 in die aangrensende Ascoli Piceno provinsie.

Die Italiaanse agentskap vir burgerlike beskerming sê van die mense wat dood is na die aardbewing was minstens 53 van Armatrice, wat in die Rieti provinsie is. Minstens 100 mense is in Armatrice beseer. Ander plekke wat daar bykans niks van oor is nie, is Accumoli en Arquata del Tronto.

Meer as 1000 mense het al hul besittings verloor. Niemand mag gisteraand in Armatrice geslaap het nie, het die agentskap vir burgerlike beskerming gesê.

In die klein nedersetting, Saletta, waar omtrent net 20 mense woon, het die inwoners hul kaal hande gebruik om deur die rommel van ’n platgeslane huis te soek na hul bure.

Luigi D’Angelo, ’n beampte van burgerlike beskerming sê hulle sal aanhou soek na oorlewendes.

“Baie gevalle het gewys waar mense na twee dae gered is en steeds lewe. So ons gaan aanhou," het Luigi gesê.

Tot dusver het mense in Saletta trekkers, plaasinstrumente en basiese handgereedskap gebruik om deur die rommel te soek.