Amerikaanse atlete soos die tennissterre Serena Williams, haar suster Venus en die gimnas Simone Biles se verslae is deel van die dosyne mediese verslae wat deur die krakers uitgelek is.

Die 19-jarige Simone het tydens die pas-afgelope Olimpiese Spele in Rio vyf medaljes verower. Vier daarvan was goud.
Die groep beweer dat die atlete willens en wetens deur Wada toegelaat is om verbode middels te gebruik. Verder beweer die Fancy Bears dat hulle reeds van die mediese verslae op die internet geplaas het.
"Nadat 'n gedetailleerde studie van die inligting van die Wada-databasis gemaak is, kon ons uitwerk dat dosyne Amerikaanse atlete positief getoets het (vir verbode middels)," het die groep op hul webwerf bekend gemaak. Hulle beweer voorts dat die Rio Olimpiese medaljewenners gereeld sterk middels gebruik wat verbode is, maar dat hulle dit regverdig met mediese sertifikate wat die middels as "terapeuties" bestempel. Van die middels is glo deur Serena en Venus onderskeidelik tydens verskeie seisoene sedert 2010-2015 geneem.
Wada, die wêreldorganisasie teen opkikkers, het die kuberkrakers skerp veroordeel. Hulle beskou hierdie optrede as 'n poging om die wêreldwye veldtog teen opkikkers te ontspoor. Die organisasie het Dinsdag formeel bevestig dat kuberkrakers onwettig toegang tot hul inligtingstelsel bekom het. Dit blyk asof die groep reeds die afgelope drie weke daagliks probeer het om toegang tot die stelsel te bekom. Die aanval word in 'n baie ernstige lig beskou. Dit volg kort op die hakke van 'n voorval in Augustus toe Yuliya Stepanova se wagwoord tot die organisasie se databasis, bekend as ADAM, op 'n onreëlmatige wyse bekom is.
Yuliya was die sleutelfiguur wat die wydverspreide gebruik van opkikkers deur Russiese atlete blootgestel is. Die Russiese owerhede het glo die gebruik van opkikkers gesteun.

Dit het daartoe bygedra dat Rusland nie aan vanjaar se Olimpiese Spele kon deelneem nie.

Yuliya self moes inderhaas vir haar en haar gesin se veiligheid van verblyfplek verander. Sy het gesê "as iets met ons gebeur, moet julle weet dit was nie 'n ongeluk nie."

Bronne: bbc.com, dnaindia.com, time.com, npr.org, ibtimes.co.uk