Dit klink soos die storielyn uit ’n Liam Neeson-rolprent – ’n beeldskone glansvrou uit Hollywood word deur gewapende skurke in haar weelderige blyplek in die stad van liggies aangeval en hulle kom weg met juweliersware ter waarde van sowat R140 miljoen voor hulle op fietse ontsnap.

Maar dit is presies wat Maandag met Kim Kardashian in Parys gebeur het.

Die 35-jarige ma van twee se gewrigte en enkels is glo vasgebind en haar mond toegebind toe ’n groep gemaskerde mans haar woonstel plunder wat veronderstel was om beveilig te wees. Luidens berigte het sy dit agterna reggekry om haar los te wikkel en haar man, die rapper Kanye West, te bel. Hy het in daardie stadium in New York opgetree.

Dit is nie verbasend dat Kim se beproewing ’n beroering in die sosiale media veroorsaak het nie – weer het die Keeping up with the Kardashians-televisiester die internet aan die gons.

Skeptici het vinnig daarop gewys die hele situasie is volmaakte materiaal vir ’n werklikheidsprogram wat met elke episode meer lyk of dit uitgedink is.

“Daar is ’n rede waarom die helfte van die wêreld nie [die storie] glo nie,” skryf Gersh Kuntzman, rubriekskrywer van die NY Daily News. “Want dis te goed om waar te wees.

“Wat die Kardashians betref kan die media bloot nie byhou nie. Trouens, ons normale twyfelsug en gewone metodes vir die nagaan van basiese feite verdwyn.

“Die hele storie tot dusver is gegrond op ’n onbekende Kardashian-‘verteenwoordiger’ en geparafraseerde samevattings van Franse owerhede,” wys hy uit.

Die privaat ondersoeker Patricia D’Orsa-Dijamco het haar twyfel teenoor Fox News uitgespreek.

“Hoe het Kim haarself losgekry nadat sy in die badkamer vasgebind is?,” vra sy. “Of wie het haar in die hotelkamer of badkamer gekry? Waar was haar veiligheidspersoneel en hotelveiligheidspersoneel of die hotel se veiligheidskameras?

“As dit ’n publisiteitsfoefie was, kan sy in groot moeilikheid kom omdat sy ’n vals verklaring by die polisie afgelê het. Klink ‘Ryan Lochte’ bekend?”

Intussen onthul bronne na aan die ster sy meen sy het haarself ’n teiken vir die rooftog gemaak deur in die sosiale media met haar juwele te spog.

“Kim is geskok en blameer haarself,” het ’n bron aan People.com vertel. “Sy verwyt haarself dat sy die ring so baie op Snapchat gewys en heeltyd gedra het. Die voorval laat haar alles bevraagteken. Hoe sy aantrek, wat sy doen.”

Afgesien van die teenstrydige berigte is dit opmerklik dat nie een van die sosialemedia-behepte Kardashian-susters of hul ma en bestuurder, Kris, sedert die aanval op Kim nog iets gedeel het nie. Die enigste lid van Kim se familie wat iets gesê het, is Kim se voormalige stiefpa, Caitlyn. Die I Am Cait-ster het Dinsdag op Instagram geskryf: “Lief vir my meisiekind! Nadat ek die volle verhaal gehoor het, is ek so dankbaar sy is ongedeerd. Dis ’n herinnering aan ons almal om versigtig te wees in die onsekerheid van hierdie wêreld.”