Skokgolwe het vanoggend deur die rubywêreld gegaan met die aankondiging dat Heyneke Meyer nie langer as afrigterskandidaat vir die Springbokke oorweeg wil word nie.

Op Twitter het Suid-Afrikaanse Rugby Unie (SARU) aangedui dat Heyneke besluit het om opsy te staan as afrigter omdat hy na onlangse verwikkelinge dit as in die beste belang van Suid-Afrikaanse rugby beskou.

"My integriteit was nog altyd baie belangrik en ek voel ek kan uittree met my kop omhoog," het hy gesê.

"Baie dankie aan die talle getroue, positiewe en passievolle ondersteuners wat my werk as afrigter so genotvol gemaak het."

Oregon Hoskins het gesê Heyneke het sy "alles vir die Springbokke gegee" en dat dit "'n groot plesier was" om met so 'n passievolle Suid-Afrikaner saam te werk.

Heyneke het die Bokspan oorgeneem toe hul vierde op die wêreldranglys was aan die einde van die 2011 Rugbywêreldbeker. Hy het hulle tot op die tweede posisie geneem na afloop van sy eerste afrigterseisoen.

"Ek het nog altyd as afrigter die Springbokke eerste in my lewe gestel. Na ons terugkeer uit Engeland het ek besef dat ongeag hoeveel ek glo ek nog kan bied, die tyd vir verandering aangebreek het," het hy aan sport24.co.za gesê.

Springbokstatistiek met Heyneke as afrigter 34 oorwinnings en 2 wedstryde gelykop in 50 wedstryde 66% wen-rekord in toetse 143 toetsdrieë SARU sal op 11 Desember 2015 bymekaarkom om 'n opvolger te bespreek. Voormalige Stormers-afrigter Allister Coetzee word wyd as die gunsteling-opvolger beskou.

Bron: sport24.co.za