Die deelnemer op die gewilde program Vietnam's Got Talent het water in drie glase geskink en swaelsuur in die vierde glas. Hy vra toe ’n lid van die gehoor om die glase om te ruil en hy (die “towenaar“) drink daarna uit een van die glase.

Sy keuse was oënskynlik swak, want hy is met ligte brandwonde in die hospitaal opgeneem nadat hy uit die glas wat die suur bevat het, gedrink het.

"Hierdie soort program is nie talent nie, dit is gekheid,” het Truong Minh Tuan, Adjunkminister van Inligting en Kommunikasie, aan dpa gesê.

Tuan en andere het gesê die toertjie moes nie op televisie uitgesaai gewees het nie.

Twee van die beoordelaars van die vertoning het by die uitsaaikorporasie, VTV, gekla en gesê hulle dink die deelnemer het die fout doelbewus gemaak om aandag te trek.

’n Woordvoerder van VTV het toegegee dat die uitsaaier gedeeltelik geblameer kan word, maar hy het nie daarop uitgebrei nie, het die koerant Tuoi Tre gerapporteer.

Kyk die uitreksel hier: