Volgens die Britse koerant, the Independent, is die bewerings in die pro-Kremlinse koerant, die Komsomolskaya Pravda, gepubliseer. Die menings van verskeie Russiese vroue is in die artikel aangehaal. Hulle glo dat die baba 'n paar dae vantevore gebore is. Sommige van hulle is ook van mening dat Kate dalk nooit self swanger was nie.
'Sy het drie dae gelede geboorte geskenk.'

Een van die vroue het gesê: “Sy het drie dae gelede geboorte geskenk. Hulle het dit maar net nou eers aangekondig. Kyk na die baba – sy lyk glad nie soos 'n pasgeborene nie.

'n Ander een se woorde was: “As sy óóit natuurlik geboorte geskenk het, was dit beslis 'n paar dae gelede.“

'n Derde vrou het gereken daar is geen manier waarop Kate, selfs met behulp van die beste dokters, so gou ná die geboorte sou kon opstaan en selfs sou kon loop nie.

Nog 'n vrou beweer selfs dat Kate nooit swanger was nie, maar dat sy 'n vals swangerskapmaag gedra het en 'n surrogaat gebruik het om die egpaar se tweede kind in die wêreld te bring.

Olga Perovskaya, 'n ginekoloog in Moskou, is ook in die koerant aangehaal. Sy het Kate se verskyning as 'n “heldedaad” beskryf, maar sy het vroue aangeraai om nie die hospitaal so gou te verlaat nadat hulle geboorte geskenk het nie.

“In ons land verlaat die gemiddelde moeder die kraamhospitaal ná drie of vier dae indien alles normaal afgeloop het, ” het sy gesê.

“Dit is natuurlik 'n risiko. 'n Klomp mense vorm immers nie 'n steriele omgewing nie – sy kon een van die virusse wat die rondte doen, aangesteek het. ”