’n Tweejarige meisie, ene Baba L, is erg gestremd weens die kopbesering wat sy vermoedelik aan die hande van haar ma se kêrel opgedoen het, het die hooggeregshof in Pretoria Dinsdag gehoor.

Baba L kan nie loop, omrol of samehangend kommunikeer nie, sê dr. Paul Stevens, ’n chirurg by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria. Hy het op 30 Desember verlede jaar ’n noodoperasie op haar uitgevoer.

Sy is ná ’n paar weke in die hospitaal aan ’n plek van veiligheid ontslaan.

“Sy het ’n ernstige kopbesering weg. Dit is hoekom sy nou aan ’n rolstoel gekluister is en nie self kan eet nie. Haar lewensverwagting hang af van die standaard van die daaglikse sorg wat sy gaan ontvang.

“Sy sal nie in ’n gewone huis kan woon nie. Sy het voortdurende sorg nodig om druksere te voorkom.

“Sy kan nie self van posisie verander nie en het hulp met haar voedingsbuis nodig. Sy kan niks vir haarself doen nie,” het Paul getuig.

Volgens Paul stem Baba L se beserings nie ooreen met haar ma en dié se kêrel se verduideliking dat sy van ’n wasmasjien afgeval het nie.

Die kleuter se 20-jarige ma en dié se 36-jarige kêrel het onskuldig gepleit op aanklagte van poging tot moord, kindermishandeling en versuim om mediese hulp te verleen.

Hulle het na bewering drie dae voor Baba L opgeneem is die hospitaal verlaat sonder dat die kleuter mediese hulp ontvang het.

Hulle ontken dat hulle haar aangerand of verwaarloos het, en beweer sy het eers van trappe en toe ’n wasmasjien afgeval.

Paul het getuig dat Baba L met haar opname kritiek siek was en ’n noodoperasie nodig gehad het. Sy het ’n geswolle buik, lae bloeddruk, ’n swak pols en lae bloedsuurstofvlakke gehad.

Sy het deur ’n ventilator asemgehaal en daar was ’n skuimerige, pienk vloeistof in haar longe, wat ’n aanduiding van vloeistof in die longe is.

Dit kan of gebeur wanneer iemand vloeistof inasem, soos wanneer hulle amper verdrink, of wanneer hulle ’n ernstige kopbesering opdoen.

Sy net eers haar oë oopgemaak toe sy met pyn gestimuleer is. Sy het ook verskeie kneusplekke op haar liggaam gehad; nie almal was ewe oud nie.

Paul het ou bloed in haar buik ontdek, asook ’n groot kneusplek oor haar nier, ’n skeur in die aar tussen haar maag en kolon, ’n fraktuur in haar heup en ’n erg gekneusde pankreas.

“By kinders is die algemeenste oorsaak van so ’n besering van die pankreas ’n direkte hou op die pankreas. Net ’n kwaai hou sal die pankreas so beseer; dit is goed beskerm en lê agter ander organe.”

Hy het gesê net ’n hewige slag kan die heupbeen breek; dit was ook nie ’n vars besering nie.

Paul het weer in Januarie op Baba L geopereer: Hy het ’n asemhalings- en voedingsbuis aangebring.

Die hofsaak duur voort.