Steven Otter, ’n woordvoerder van die Kaapse stadsraad is Vrydagoggend omstreeks 04:00 dood ná hy sy vriendin en haar dogtertjie van huisrowers probeer beskerm het. Die 43-jarige man is glo in die hart gesteek, berig Netwerk24.

Volgens polisiewoordvoerder lt.kol. André Traut, het twee gewapende verdagtes met ’n televisiestel, ’n skootrekenaar en ’n selfoon gevlug.

“Ek wou nie die nuus vanoggend glo nie, maar dit is waar. Sy dood is baie slegte nuus,” het burgerskomiteelid vir vervoer, Brett Herron aan News24 gesê. Steven was betrokke by die kommunikasie en gemeenskapsbelange vir die Kaapstad se vervoerafdeling. Volgens ’n stadsamptenaar het Steven ’n passie gehad vir weerlose en gemarginaliseerde mense. Steven het ’n boek, Khayelitsha uMlungu in a Township, die lig laat sien.

Sy voormalige werkgewer Patricia de Lille het ook haar skok oor sy dood uitgespreek.