Volgens lt.kol. André Traut het die polisie om 10:30 en 11:30 oproepe ontvang wat die bomdreigemente aangemeld het.

Albei gevalle was in Langstraat in die middestad van Kaapstad. Die geboue is deursoek maar geen plofbare toestelle is gevind nie.

“Sake is oopgemaak en die omstandighede word ondersoek,” het André gesê.

Hy sê verdere besonderhede oor die oproepe kan nie bekend gemaak word nie omdat die polisie besig is met die ondersoek.

’n Winkeleienaar van een van die geboue het aan Huisgenoot gesê dat haar assistent vir haar gesê het dat baie mense in die straat saamdrom.

“Niemand het vir ons kom sê om te ontruim nie, so ek dink nie daar was regtig ’n bom nie. Verlede week was daar ook ’n voorval maar toe is daar vir ons gesê om te ontruim.”