Die koerant se bron is glo 'n senior militêre amptenaar wat aan die ondersoek na die oorsaak van die ramp deelneem.

Volgens die berig kan daar op die kajuit-stemopnemer, wat vroeër deur soek- en reddingspanne gevind is, gehoor word hoe die vlieënier eers liggies en daarna al harder aan die deur klop. Die klanke dui aan dat hy later "die deur probeer afbreek" om weer toegang tot die stuurkajuit te kry.

Voordat hy die Airbus A320 se kajuit verlaat het, was daar glo roetine-gesprekke tussen hom en die ander vlieënier van vlug 4U9525.

Lufthansa, die eienaar van die Germanwings-redery, wou nie op die New York Times se "spekulatiewe" berig kommentaar lewer nie, maar het aangedui dat dit opgevolg sou word.

– Sapa-dpa