Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein is op soek na ’n tuiste vir ’n agt maande oue Jack Russell-hondjie met een oog en een oor.

hondjie

Buiten die vermiste oog en oor het die hondjie ook verskeie wonde en skaafplekke, het Reinet Meyer, senior inspekteur van die DBV in Bloemfontein, Dinsdag in ’n verklaring gesê.

Die hondjie se oor lyk asof dit onlangs verwyder is, want die wond is nog vars.

“Ons sou verstaan het as die hond se oog beseer was en verwyder moes word, maar dis uiters verdag dat die hond se oor ook af is. Hierdie hond het seker ’n baie moeilike tyd deurgemaak. Hier het heelwat mishandeling plaasgevind. Ons vermoed ’n leerder het die hond skool toe gevat om vir sy vriende te wys, maar het toe moed verloor, en gemaak asof dit ’n rondloperhond is.”

Die hond is by ’n skool in die middestad in Bloemfontein gevind.

Hy ontvang behandeling vir ’n ernstige infeksie in sy gesnyde oor. Dis nog onduidelik wat die sere op sy lyf veroorsaak het.

Reinet het ’n beroep gedoen dat enigeen met inligting oor wat met die hond gebeur het, of oor wie die eienaar is, na vore sal kom.

Die DBV in Bloemfontein kan by 051-447-3801 gekontak word. Alle inligting sal vertroulik gehou word.

Enigeen wat ’n geldelike bydrae tot die hond se sorg wil lewer, kan dit skenk aan: DBV, Absa Bank, rekeningnommer 927 910 2644, takkode: 632005.

Bron: News24