Ek glo ’n koppie tee is die antwoord op enige krisis. ’n Koppie rooibos kan die gemoed kalmeer; ’n teug gemmertee streel ’n omgekrapte maag en ’n bietjie tuisgemaakte chai bied vertroosting.

En ek is nie die enigste een nie. ’n Sielkundige van die Stadsuniversiteit van Londen het in 2009 bewys dat selfs net ’n enkele koppie tee angstigheid ná ’n stresvolle ervaring beduidend kan verminder.

Maar tee is nie net vir stres en angs nie, daar is ’n tee vir elke kwaal.

Kaneel is kalmerend, bevorder bestendige bloedsuikervlakke en help met vertering, sê Taryn Coghlan, ’n dieetkundige van Johannesburg.

Rooi framboos help voorkom miskrame en bloeding tydens swangerskap.

Vinkel is uitstekend vir die vermeerdering en verryking van borsmelk by borsvoedende ma’s.

Sitroengras verminder blykbaar koors en verlig pyn.

Peperment word gebruik as raat vir verkoue, koors en griep.

Soethout verminder vermoedelik swelling, verdun slymafskeidings, verminder hoes en help genees maagsere.

Sterk gemmertee

Bestanddele

  • Gemmerwortel
  • 2 swart naeltjies
  • ½ tot 1 t (2 ½ tot 5 ml) kaneel of kaneelstokke
  • 3 kardamompeule

Maak so

  1. Kap en skil soveel gemmer as wat jy wil. Hoe meer gemmer, hoe sterker raak dit en hoe langer kook jy dit.
  2. Voeg die naeltjies en kaneel by.
  3. Laat prut in ’n pot in sowat 1 L water.
  4. Laat prut 5 minute, afhangende van hoe sterk jy dit wil hê.
  5. As die water verdamp, voeg nog water by terwyl dit prut.
  6. Gooi met die bestanddele in ’n fles (dit sal sterker word as die gemmer ingelos word).
  7. Drink deur die dag.
  8. Opsie – Verkoel en sit voor met skyfies lemoen en suurlemoen.
  9. Opsie – Voeg ’n sakkie rooibos- of ander kruietee by.

Voedende kruietee

Bestanddele

  • 3 dele droë rooi framboosblare
  • 2 dele droë roosbottels
  • 1 deel droë brandnetel
  • 1 deel droë hawerstrooi
  • ½ deel kaneelskyfies
  • ½ deel droë vinkelsaad
  • ¼ deel groenmentblare (opsioneel, laat uit as jy homeopatie gebruik)
  • 4 k (1 L) gefiltreerde water
  • Ys (opsioneel)
  • Rou heuning of vars vrugtesap (opsioneel)

Maak so

  1. Meng al die droë kruie in ’n middelslagbak en bêre die kruiemengsel in ’n lugdigte glashouer.
  2. Bring water tot kookpunt en verwyder van die hitte. Voeg 4 t (20 ml) kruiemengsel by die water (1 t/5 ml per 1 k/250 ml water). Bedek – dit sal verseker dat jy al die voedingsvoordele uit die kruie kry.
  3. Laat trek 30 minute tot 4 uur vir die meeste voordeel. Hoe langer jy dit laat trek, hoe sterker sal die geur wees.
  4. Versoet met ’n klein bietjie heuning of vars vrugtesap indien jy dit verkies. As jy die voordele van rou heuning of vars vrugtesap wil hê, voeg dit by nadat die tee ’n bietjie afgekoel het.
  5. Bêre ekstra tee tot ’n week lank in die yskas.

Chai-tee

Bestanddele

  • 4 k (1 L) gefiltreerde water
  • 3 e (45 ml) kaneelskyfies of 2 stokke
  • 1 e (15 ml) vinkelsaad
  • 1 e (15 ml) droë gemmerwortel
  • 1 e (15 ml) roosbottels
  • 2 t (10 ml) heel naeltjies
  • 3 stukke astragaluswortel
  • ½ t (2½ ml) swartpeperkorrels
  • 1 k (250 ml), organiese volroom-, klapper- of amandelmelk (opsioneel; dit kan sonder melk gedrink word)
  • 3 e (45 ml) plaaslike rou heuning

Maak so

  1. Bring die water tot kookpunt in ’n middelslag-kastrol.
  2. Meng die kaneelskyfies, vinkelsaad, gemmerwortel, roosbottels, naeltjies, astragaluswortel en peperkorrels in ’n bakkie of op ’n bord.
  3. Voeg al die speserye en kruie by die kokende water. Verwyder van die hitte, bedek en laat trek 30 tot 45 minute (die minimum van 30 minute gee jou ’n infusie, wat beteken jy sal die volle voedingsvoordele van die speserye en kruie kry).
  4. Wanneer die tee klaar getrek het, gooi dit deur ’n fyn sif in ’n hittebestande bak of houer.
  5. Gooi die chai-tee terug in die kastrol en voeg melk en versoeter van jou keuse by. Verhit oor lae hitte tot die verlangde temperatuur.
  6. Roer om te meng en sit warm voor.

Detokstee

Dié tee word as ’n natuurlik reiniger vir die kolon en/of lewer gebruik.

Bestanddele

  • Gelyke hoeveelhede (2 e/30 ml) vinkel, fenegriek, vlassaad, soethout, gemmerwortel en pepermentblare
  • Kaasdoek

Maak so

  1. Plaas gelyke hoeveelhede (2 e/30 ml) van al die bestanddele buiten die gemmer en peperment in die kaasdoek.
  2. Plaas 2-4 vars skyfies gemmer 3 tot 4 minute in kookwater.
  3. Stel die hitte op laag, plaas al die bestanddele buiten die peperment in die kookwater en laat prut 10 tot 15 minute.
  4. Sit die hitte af, voeg die peperment by en laat trek nog 5 minute. Die peperment sal brand as jy dit saam met die ander bestanddele insit.
  5. Sit die tee warm voor of koud oor ys.
  6. Drink die detokstee regdeur die dag, veral eerste ding in die oggend, om die vrugte daarvan te pluk.

- Alet van Zyl

Ekstra bronne: Telegraph.co.uk, Webmd.com